Polisielede van Elandsbaai het Woensdag (26 Oktober) ’n wenk ontvang en drie vermeende skelms vasgetrek.
Speursersant Gert Titus, kommunikasiebeampte van die Elandsbaai-polisie, verduidelik ’n inbraak by ’n huis in Duinestraat, Elandsbaai, is aangemeld.
Boumateriaal is onder meer gesteel en is later by ’n woning in die buurt gevind.
“ ’n Verdagte (38) is in die huis waar die gesteelde items gevind is in hegtenis geneem. Die man is ook weens die besit van tik en Mandrax asook die vermoedelik gesteelde eiendom aangekla,” verduidelik Titus.
Onder die goedere wat gevind is, was ’n toiletsitplek, toilet-waterbak, handewasbak, stortafvoerstelsels, verfdromme met verf, verfrollers asook ’n gaspyp en skroewe.
Titus en sy kollegas, AO Jorrie Jordaan, sers. Jeoffrey Lombard en konstabels Manda Sikobi en Fatima van der Westhuizen, het tydens die optrede op die goedere afgekom. Hulle beskou die optrede as ’n reusesukses aangesien die bedieningsarea gebuk gaan onder huisbrake en diefstal.
AO Jorrie Jordaan, die waarnemende kantoorbevelvoerder, het al die lede vir hul goeie werk en tyd wat hulle aan die ondersoek afgestaan het, bedank.
Nog twee verdagtes is ná verdere ondersoek in verband met die saak in hegtenis geneem.
Die betrokke verdagtes het reeds Vrydag (28 Oktober) in die Piketberg-hof verskyn. Hulle sal weer Woensdag (16 November) in die hof verskyn.




