Klawer se ouer mense was die eregaste by die Weskus-polisiedistrik se bewusmakingsgeleentheid.
Die Weskus-polisiedistrik se bevelvoerder, genl.maj. Sizakhele William Dyantyi wat in Saldanha gebaseer is, en sy kollegas het vandeesweek die gemeenskap van Klawer besoek as deel van die polisie se jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog wat tans aan die gang is.
Die 16 Dae-veldtog het sedert sy ontstaan gefokus op die beskerming van kinders en vroue, maar daar het volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, kaptein Tania Helfrich, ’n behoefte ontstaan om ander kwesbare groepe, soos gestremde mense en bejaardes, ook in die veldtog in te sluit.
Vanjaar se veldtog fokus grootliks op bewusmaking van die uitbuiting en verwaarlosing van, asook geweld teen bejaardes wat dikwels agter geslote deure plaasvind.
Die plaaslike gemeenskap het Dinsdag vir die polisiebesoek in Klawer bymekaargekom. Kospakkies is uitgedeel en die gaste is met rieldanse en geestelike danspassies vermaak.
Daar is met die gaste oor misdaadvoorkoming en bejaardes se regte gesels en Julie Davids van die Suid-Afrikaanse Artritis-stigting het ’n insiggewende toespraak gelewer.
Helfrich sê die rede waarom die Weskusdistrik besluit het om vanjaar as deel van die 16 Dae-veldtog ’n spesiale besoek in Klawer af te lê, is die feit dat die inwoners van hierdie klein dorpie nog getraumatiseer is ná die wrede moord op ’n tiener, Jerobijin van Wyk (13), in Februarie vanjaar.



