Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het vandeesweek ’n ernstige beroep op alle inwoners en toeriste van elders gedoen om veiligheid in en om die water die komende somervakansie te alle tye in gedagte te hou.
“Seestrome bly die grootste oorsaak wat tot verdrinkings aan die kus lei,” beklemtoon Craig Lambinon, die nasionale woordvoerder van die NSRI.
Hy vra strandgangers om slegs by strande of plekke waar menseredders teenwoordig is, te swem.
Seebootvaarders, roeiers en skippers word aangeraai om die NSRI se toepassing, die NSRI RSA Safety Smart Phone Application, af te laai. Hy vra ook dat mense vooraf moet vasstel hoe die veiligheidstoerusting van die onderskeie seevaartuie werk.
Wat hengelaars aan die kuslyn betref, moet hulle altyd ’n veilige afstand van die water handhaaf.
“Almal moet bewus wees of bewus raak van die twee daaglikse hoë en lae getye, asook springgety, wat tydens volmaan en nuwemaan-fases voorkom,” verduidelik Lambinon.
Binnelandse watergebruikers by damme, strandmere, riviere of swembaddens moet ook altyd die ontspanningsaktiwiteite met veiligheid in gedagte nader.
“Kinders wat swem of naby water speel, moet dit in die teenwoordigheid van volwassenes wat doelbewus oor hulle toesig hou, doen. Een van die moeilikste take wat die NSRI saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en nooddienspersoneel moet uitvoer, is om familielede in kennis te stel dat hul geliefdes nie weer huis toe gaan kom nie,” pleit Lambinon. “Ons gedagtes is met die familielede wat ons oor die jare weens sulke tragedies moes bystaan.”
Hy het watergebruikers die versekering gegee dat alle NSRI-personeel en ander nooddienspersoneel goed toegerus is en hoogs voorbereid is om op noodgevalle te reageer.
Indien nooddienste na ’n waternoodgeval ontbied moet word, kan 112 of 087 094 9774 geskakel word. Stoor die nommers sommer nou, sê hy.
“Met ’n gefokusde span in samewerking met die publiek bly ons hoofdoel om verdrinkings en waterongelukke te voorkom. Ons doen daarom ’n beroep op almal wat water vir ontspanningsdoeleindes gaan gebruik om veiligheid altyd eerste te stel.”



