Meer as 100 motorfietsryers en ondersteuners het aan die massa-rit deelgeneem.Foto:


Weskus-motorfietsryers het onlangs weer ’n massa-rit van Vredenburg na Velddrif aangedurf, en dít alles om klein hartjies hierdie feestyd bly te maak.

Plaaslike motorfietsryers en ondersteuners het op Sondag 27 November by Juffroushoogte bymekaargekom. Hierdie oggend het sowat 180 ryers op hul ysterperde geklim.

“Ons was vanjaar geseënd met die New Apostolic Church-motorfietsvereniging (Nac) wat ’n sleepwa vol speelgoed van Kaapstad af deurgebring het. Hierdie entoesiastiese groep deel skenkings oor die land heen uit,” het Gerrie Pieterse, die voorsitter van die Weskus-motorfietsklub, gesê.

Harcourts Langebaan asook individue het skenkings vir die tradisionele veiling ten bate van Eilandhuis vir Gestremdes in St. Helenabaai bygedra.

Geskenkpakkies sal nou opgemaak word volgens die behoeftes van die onderskeie plaaslike kinderliefdadigheidsorganisasies, wat die geskenke voor Kersdag sal ontvang.

Pieterse het verseker die kontant-skenkings sal geoudit en aan die Eilandhuis oorhandig word.

“Ons wil graag vir Charl van Juffroushoogte bedank vir die gratis koffie by die beginpunt, Maritha Wagner van Harcourts vir die geskenke en Nac vir hul wonderlike gebaar, en die Velddrif-gholfklub en personeel wat altyd gewillig is om ons te akkommodeer,” het Pieterse gesê. Hy het ook almal wat van ver gekom het om die plaaslike insameling te ondersteun, bedank.

Die tradisionele gesegde “Bikers care” is sodoende weer bewys, het hy afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article