Weslander se personeel deel ’n paar van hul gunstelingresepte wat jaar ná jaar ’n plekkie op die Kerstafel vind.
Daar is niks so lekker soos ’n oondgebraaide lamsboud vir Noluvu Ludidi nie. Sy deel hierdie heerlike resep:
Bestanddele
• Lamsboud van 2 kg, met skenkel aan indien verkies
• 8 knoffelhuisies, gekneus
• 1 e droë tiemie
• skil en sap van 1 suurlemoen (skil baie fyn gerasper)
• 4 e botter
• 2 e olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
* Aartappels – opsioneel
Metode
Verhit die oond vooraf tot 180 °C.
Meng die knoffel, suurlemoenskil en suurlemoensap met olyfolie en vryf dit oor die hele lamsboud saam met die mengsel goed in.
Plaas die lamsboud in ’n oondpan.
Stip oraloor met botter; geur met sout, peper en droë tiemie.
Bedek die oondpan met swaargewigfoelie, seël mooi aan die kante en bak vir twee ure.
Verwyder nou die foelie (aartappels kan nou bygevoeg word indien verkies) en bak die lamsboud oop vir nog so 1½ uur by 160 °C tot goudbruin, bedruip gereeld met pansous bo-oor die vleis.
Laat die lamsboudjie so 30 minute rus voordat jy dit opsny.
Trish Goosen meen wat is dan nou lekkerder as ’n kaasbord, beskuitjies en ’n patee of twee oor die groot feesdae?
Snoek-patee is heerlik en eg-Weskus.
As jy oorskiet- gebraaide snoek het, is snoekpatee die beste manier om dit te gebruik. Probeer gerus Jan Braai se snoekpatee-resep. Dit is heerlik:
Bestanddele
• Sowat 250 g gebraaide of gerookte snoek
• Die sap van ’n halwe suurlemoen
• 1 houer gewone roomkaas (gewoonlik 230-250 g)
• ’n Bietjie gewone (ongegeurde) volroomjogurt
• Pietersielie na smaak (fyn gekap)
• Grasuie na smaak (fyn gekap)
Metode
Verwyder alle grate en vel van die snoek en vlok die vis met gewaste hande. Sit die gevlokte snoek in ’n mengbak saam met die suurlemoensap, roomkaas, jogurt, pietersielie en grasuie. Gebruik nou ’n vurk en meng dit tot ’n gladde en smeerbare pasta. Proe die patee en voeg sout en peper by indien nodig. Die hoeveelheid sout en peper wat jy nodig het, sal natuurlik afhang van hoe sterk die snoek op die braai gegeur was. Smeer mildelik op soutbeskuitjies.
’n Gunsteling op Madelie van Tonder se Kerstafel is pampoenpoffertjies, soos voorberei uit die Maklik met Marinda-kookboek. Hier is wat jy nodig het:
Bestanddele
• 750 ml gaar fyn pampoen
• 2 eiers
• 5 ml sout
• 500 ml bruismeel
• 15 ml bakpoeier
• 500 ml olie om poffers in te braai
Stroop
• 500 ml Suiker
• 250 ml water
• 125 ml melk
• 30 ml botter
• sout
• 10 ml Maizena
Metode
• Klop die gaar, fyngedrukte pampoen, eiers en sout saam,
• Meng die bakpoeier en bruismeel by,
• Verhit die olie in ’n pan en skep lepels vol van die beslag in die warm olie.
• Draai om as dit bruin is en dreineer op kombuispapier in ’n bak.
• Hou dit warm.
• Maak die sous (in die mikrogolf).
• Mikrogolf die suiker, melk, water en botter vir 5 minute. Roer totdat die suiker opgelos is.
• Meng die mielieblom met ’n klein bietjie water tot glad, roer dit by die suikermengsel en mikrogolf vir nog 2 minute. Gooi die warm stroop oor die poffertjies.
Ten spyte daarvan dat Yaël Malgas se gesin net twee mense het wat koekstruif eet, maak sy elke jaar seker daar is een vir Kersfees. “Ek maak en eet slegs koekstruif in Desember, dus maak ek seker dié nagereg is op die Kerstafel. My resep is maar grootliks ’n skatting en ’n kyk met die oog, en hang baie af van die houertjie waarin jy die koekstruif voorsit,” vertel sy.
Bestanddele
• sponskoek
• karamel
• geblikte gemengde vrugte
• vla
• jellie
• room
• neute
Metode
Onthou – die jellie moet vooraf gemaak word. Wanneer jy gereed is om jou koekstruif te pak, smeer ’n laag karamel oor die sponskoek. Die koek is die eerste laag en gaan onder in die bak. Dan volg die laag vrugte, en moenie ’n bietjie stroop vergeet nie. Dit help ook dat die koek nie te droog is nie. ’n Laag jellie en dan kom die vla. Herhaal hierdie lae soveel keer soos jou houer toelaat.
Bedek met geklopte room en besprinkel met neute.
Koekstruif is ’n baie aanpasbare nagereg. Bestanddele kan vervang of uitgelaat word met wat ook al jou gunstelinglekkernye is.
Vir Arlene Nyman was hul Kerstradisie haar oumagrootjie se gemmerkoekies. Sy deel graag hierdie familieresep met lesers. Jy benodig:
• 100 g gesoute botter, in blokkies
• 75 g ligte bruin sagte suiker
• 1 e gerasperde vars gemmer
• 100 g gouestroop
• 250 g bruismeel
• 1½ e gemaalde gemmer
• 1 t koeksoda
• eiergeel van een klein eier, geklits
Metode
Smelt die botter, stroop, suiker en gemmer oor ’n lae hitte en laat afkoel,
Meng die droë bestanddele, voeg die afgekoelde mengsel en eiergeel by en knie om deeg te vorm. Rol die deeg in klein balletjies en pak op ’n bakplaat met genoeg spasie tussen balletjies,
Bak teen 180 ºC (170 ºC vir ’n lugbraaier) vir 10 – 12 minute tot goudbruin. Laat op ’n rak afkoel.
’n Bykos wat altyd op die spyskaart is van Maryke Swart se familie-Kersete is haar ma se kerrie-noedel-pastaslaai.
“My ma het haar nog nooit vir ’n bobaaskok uitgegee nie, en is maar alte bly as my pa agter die kospotte inskuif. Maar sy kan drie disse goed maak – hoenderpastei, appeltert en kerrie-noedel-pastaslaai.
Jy benodig
• 1 pak skulpiepasta
• 1 groen rissie (gekap)
• 1 groot ui
• 1 blik ingelegde perskes (gedreineer)
Vir die sous
• 50 ml olie
• 3 ml borrie en 6 ml kerrie (matig)
• 25 ml blatjang
• 25 ml suiker
• 25 ml asyn
Metode
Kook die pasta tot gaar in soutwater en dreineer. Meng die groenrissie, ui en perskeskywe met pasta. Meng die sousbestanddele goed deur sodat suiker kan oplos. Gooi oor die pasta.
Indien verkies, kan die pasta met ’n koppie koring vervang word. Kook die koring tot gaar in soutwater en spoel af onder koue lopende water. Volg dieselfde metode verder.


