Almal wil vanjaar veilig en gesond van hul welverdiende vakansies terugkeer.
Jou gesin se veiligheid is nie net die verantwoordelikheid van die polisie, die verkeersdiens, wetstoepassingsbeamptes en die buurtwag nie.
Deur paraat te wees, wys op te tree, alkohol verantwoordelik te gebruik en deur deeglike beplanning kan jy verhoed dat jy of jou geliefdes die slagoffer van ’n misdaad of van ’n tragiese botsing, ongeluk of verdrinking word.
Die Saldanhabaai-veiligheidsinisiatief vir die feestyd van 2022-’23 is Dinsdag 13 Desember seremonieel in Breëstraat, Langebaan van stapel gestuur.
By die geleentheid het die burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), André Truter, SBM se bestuurder van openbare veiligheid, Mario Jacobs, en die bevelvoerder van die Weskus-polisiedistrik, genl.maj. Sizakhele William Dyanty, die gaste toegespreek.
Ander sprekers was onder andere Frederik Brandt van die provinsiale verkeersdiens, Pierre Nel van die Weskus Nasionale Park, dr. Cleeve Robertson van die nasionale-seereddingsinstituut (NSRI) en Michael Matzeke, verteenwoordiger van mediese nooddienste.
Die doel van die veiligheidsinisiatief, veral met betrekking tot die komende feestyd, is om vennootskappe en samewerking tussen sleutelrolspelers te versterk in hul gedeelde doelwit om misdaad te bekamp, om veiliger gemeenskappe te skep, effektiewe wetstoepassing te bestuur en aan besoekers ’n aangename vakansie-ervaring aan die Weskus te verseker.
Feestyd-veiligheidswenke
(Verskaf deur die Weskus-polisiedistrik)
“Hoewel ons almal uitsien na dié tyd van die jaar, moet ons steeds alles in ons vermoë doen om nie slagoffers van misdaad te word nie,” sê kapt Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik.
“Onthou, die vooruitsig van jou beplande vakansie, om net ’n bietjie te ontspan, is juis die denkwyse waarvoor kriminele wag! Wees te alle tye waaksaam, nie net by jou eie huis nie, maar ook daar waar jy tydens die feestyd gaan ontspan.”
. Maak seker dat alle deure en vensters deeglik gesluit is en dat alle vensters behoorlik toegemaak is. Kyk ook na jou diefwering en of dit steeds die doel dien waarvoor dit geïnstalleer is;
. Maak seker dat alle waardevolle artikels uit die oog is;
. Wees uiters bedagsaam wanneer jy ’n outomatiese banktellermasjien (OTM) gebruik en moenie hulp van enigiemand aanvaar, behalwe ’n bankamptenaar nie;
. Pasop vir die ongelooflike “winskope” wat op sosiale media geadverteer word. Sodra jy die geld oorbetaal vir ’n produk, ’n hondjie of ’n voertuig, hoor jy nie sommer weer van die adverteerder nie. Tref reëlings aangaande die betaling en ontvangs van ’n produk, troeteldier of voertuig. Onthou, as iemand regtig ernstig is om ’n produk te verkoop sal hy of sy reëlings-ooreenkomste verwelkom;
. ’n Bankamptenaar sal jou nie bel oor sodanige ”ongemagtigde transaksies” op jou rekening nie. So ook nie ’n selfoondiensverskaffer nie. Wees uiters versigtig watter oproepe jy beantwoord en moenie jou bankbesonderhede, wagwoord of pinnommer met die beller deel nie. Gewetenlose bedrieërs sal enigiets doen om jou geld te steel;
. Hou jou oë op jou handsak of inkopies. Kriminele drentel in winkelsentrums rond en is op soek na sulke gelukskote; en
. Is jy ’n slagoffer van misdaad of is jy die oortreder? Dit is goed om sekuriteitsmiddels te installeer om na jou huishoudelike items om te sien, maar misbruik jy iemand in jou familie deur hulle verbaal of fisiek aan te rand? In die laaste paar dae van die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders en dié jaar spesifiek teen senior burgers, is dit uiters belangrik om selfondersoek in te stel en jou nie skuldig te maak aan geweld en die mishandeling van jou naaste nie.
Padveiligheidswenke
(Verskaf deur die provinsiale verkeersdiens)
. Moegheid, onpadwaardige voertuie, spoed, foutiewe remme, alkoholmisbruik en ’n blatante verontagsaming van padreëls is maar enkele van die faktore wat tot padongelukke bydra;
. Padveiligheid begin by die huis en as elke motoris sy bestuursgewoontes ten goede verander, sal daar minder noodlottige botsings op die Weskus se paaie wees;
. Wees hoflik en handhaaf ’n veilige volgafstand. Gebruik jou flikkerlig voor jy draai of van baan verander;
. Vermy padwoede. Moenie toelaat dat jy uitgelok word om gewelddadig te wees nie en weerstaan die versoeking om weerwraak te neem, want dit kan lei tot enigiets van ’n botsing tot ’n skietery;
. Wees waaksaam en paraat. Die beste padgebruikers en motoriste is diegene wat bewus is van hul omgewing en aandag gee aan die padtoestande, weer en ander eksterne invloede soos padwerke, botsings en obstruksies;
. Motoriste moet veral waaksaam wees wanneer hulle langs gelaaide motors en vragmotors ry en hulle moet ook in besonder let op ander bestuurders wat se aandag moontlik deur kinders en troeteldiere in die voertuig afgelei kan word. Leer om potensieel gevaarlike bestuurders te herken en bly weg van hulle af;
. Gehoorsaam die spoedbeperking. Spoed maak dood en daar is geen regverdiging om iewers heen te jaag nie. Dit stel jou lewe in gevaar, maar ook dié van ander motoriste en voetgangers;
. Gehoorsaam die wette vir ’n veiliger reis;
. Moenie selfone gebruik wanneer jy bestuur nie. Dit is uiters gevaarlik; en
. Maak seker dat alle insittendes ’n veiligheidsgordel aangespe.





