Indien die elektrisiteit by die huis af is, hoekom nie eerder op die strand of by die kampterrein kuier nie?
Die toerismesektor is een van dié wat onder die Covid-pandemie die swaarste getrek het, en nou, met die land wat onder beurtkrag gebuk gaan, bring dit nog ’n slag vir die sektor mee.
Maar Marilyn Matroos, die sekretaris van die Saldanha- plaaslike toerismevereniging (Salta), sê beurtkrag het besoekers nie afgeskrik nie.
“Mense aanvaar die stand van sake en plaaslike ondernemings het ’n plan gemaak met die gebrek aan elektrisiteit. Gastehuise en strande in Saldanha was die afgelope vakansie vol,” vertel sy.
Matroos sê die dorp was besig en talle besoekers het die geleentheid benut om ook ander dorpe in die gebied te besoek.
Sy meen gas is die antwoord om die gebrek aan elektrisiteit die hoof te bied.
“Indien plaaslike gasverskaffers saam met ons werk om goedkoper gas aan plaaslike [ondernemings] te verskaf, werk ons weer saam met hulle.”
Piketberg was op sy beurt stil, maar Georgia Abrahams sê dit is nie buitengewoon nie.
Abrahams is die bemarkingsbestuurder van Bergrivier-toerisme en is in Piketberg gebaseer.
“Ons kry nie so baie aftrek soos die kusdorpe oor die Desember-vakansies nie. Besoekers is eerder hier om sake te doen, maar die getalle neem tog ná die Covid-inperking toe.
“Die meeste van die besoekers wat hier ’n draai kom maak, is familie en vriende wat by hul geliefdes kom kuier, maar wanneer dit in die Noordelike Halfrond winter raak, begin besoekersgetalle styg.
“Internasionale besoekers kom dan hierheen vir ons lekker warm dae wanneer dit winter is,” sê sy en verduidelik verder hoewel die plaaslike vulstasie en padstal – op die N7-pad – gereeld besig is, kom besoekers nie altyd in die dorp nie, “wat hartseer is”. Abrahams sê egter in die algemeen neem getalle ná die inperkingsmaatreëls stadig maar seker toe.
In Lambertsbaai was dit ’n goeie feestyd, verduidelik Joos Engelbrecht, die voorsitter van die Lambertsbaai-toerismevereniging.
“Ons het ’n uitstekende seisoen gehad, met hoë besoekersgetalle. Benewens Suid-Afrikaanse en internasionale besoekers het ons ook vele dagbesoekers van die omliggende omgewing gehad,” verduidelik hy.
Engelbrecht sê besoekers van oor die land heen verstaan die gevolge van beurtkrag op die sektor, hoewel dit vir kuiergaste steeds ongerieflik en lastig is. Dit is egter die internasionale besoekers wat nie die konsep van “kraglose” ure verstaan nie, maar beurtkrag is aan hulle verduidelik.
Engelbrecht sê vele besprekings is reeds vir vanjaar gemaak met Desember-besoekers wat tydens Paasfees en die skoolvakansie weer dié kusdorp wil besoek.
“Ons het moeite gedoen om te verseker die dorp is vir die feestyd mooi skoon, en dit was ’n positiewe punt wat byna al die besoekers uitgelig het,” sê hy.
Intussen blyk daar geen einde aan beurtkrag te wees nie. Eskom, die nasionale kragverskaffer, het in sy mees onlangse verklaring verduidelik die onklaarraking van kragopwekkingseenhede het op 17 035 MW gestaan terwyl 6 189 MW weens instandhoudingswerk verlore is.
Die kragverskaffer het Dinsdag (10 Januarie) aangekondig fase 6-beurtkrag sal snags tussen 16:00 en 05:00 ingestel word, terwyl fase 4-beurtkrag daagliks van 05:00 tot 16:00 toegepas word.





