’n Groot hoeveelheid “onwettige” kreefsterte is deur die owerhede by ’n bekende Weskus-restaurant ontdek.
Volgens kapt.
Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is ’n
verdagte Maandag (23 Januarie) met betrekking tot dié kreefvonds by ’n Paternoster-restaurant in hegtenis geneem. Die polisie en die departement van omgewing, bosbou en visserye (Deff) was met die ontdekking van die meer as 600 kreefsterte op die toneel. Die saak word nou deur die polisie se plaaslike eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies ondersoek.
Helfrich sê die verdagte, wat nie ’n faktuur vir die kreefsterte kon toon nie, is vrygelaat op ’n waarskuwing en sal op 6 Februarie in die Vredenburg-landdroshof verskyn. Die restaurant se naam is bekend aan Weslander maar word weerhou tot die eerste hofverskyning. Weslander het vertroulik verneem onwettige kreefstropery en -handel speel ’n groot rol in die uitputting van die Weskus se kreefbron.
Belemane Semoli, die waarnemende adjunk-direkteurgeneraal van visseryebestuur by die Deff, het in Oktober verlede jaar ’n openbare kennisgewing uitgereik om belangrike inligting ten opsigte van die huidige kreefseisoen vir kommersiële doeleindes, bestaansvissers en rekreasie-doeleindes aan te kondig. Volgens hierdie kennisgewing is die maksimum toelaatbare kreefvangs vir die 2022-’23-visvangseisoen met 21,4% teenoor die vorige visvangseisoen van 2021-’22 verminder.
Studies het bepaal die hulpbron is tot ongeveer 58% uitgeput teenoor die minimum herstelteikenvlak wat in 2006 ervaar is. Dit is aansienlik laer as die 70% geskatte beraming in die 2021-ontleding. Die hulpbron staan nou op slegs 1,4% van sy voormalige, ongerepte bevolking soos in 1910 bepaal is.
Dit is ’n misdaad om kreef sonder ’n permit te vang, om dit sonder die nodige toestemming en permit te verkoop, of om kreef by ’n straatverkoper te koop.
Kreefpermitte is teen R94 by die poskantoor beskikbaar. Dit is egter hierdie jaar vir net 12 dae vir rekreasie-vissers vir kreef beskikbaar gestel. Nege van hierdie dae was vir Desember en een is vir Januarie uitgesit. Daar is dus nog twee dae oor waarop ontspanningsvissers met permitte wettig kreef mag vang – op 8 en 9 April.



