Gereelde beurtkrag kan daartoe lei dat die kos in jou yskas gouer sleg raak.


Yskaste en vrieskaste pak weens beurtkrag op.

Kos raak al duurder.

Duur kos bederf gouer in yskaste en lei tot ’n hoër risiko vir voedselvergiftiging.

Versekeringsmaatskappye wil nie yskaste of die inhoud daarvan verseker as beurtkrag die skade veroorsaak nie.

Gereelde beurtkrag, veral fase ses wanneer die krag vir vier ure op ’n keer afgeskakel word – soms sommer twee keer per dag – veroorsaak enorme uitdagings vir huisgesinne en sakeondernemings – veral aan die Weskus.

Diegene wat nie battery-omsetters (inverters), sonkragstelsels of kragopwekkers kan bekostig om hul yskaste en vrieskaste tydens beurtkrag aan die gang te hou nie, loop die gevaar om hierdie noodsaaklike elektriese toerusting en die duur kos wat daarin koud gehou word, te verloor.

Santam het in Oktober 2022 in ’n persverklaring verduidelik die maatskappy het onlangs ’n styging van sowat 60% in eise vir skade weens kragstuwings (power surge) weens die toename in beurtkrag ervaar.

Die verklaring het ook verduidelik beurtkrag is nie ’n versekerbare risiko nie, maar versekeraars is wel bereid om elektroniese toestelle soos yskaste, vrieskaste en ook die inhoud daarvan te verseker as die skade weens ’n kragstuwing veroorsaak is.

Kragstuwings kan wissel van so min as een volt oor die drempelmaksimum van 169 volt tot duisende oortollige volt, soos wanneer weerlig kraglyne of ’n transformator tref.

Meer kragstuwings word ervaar wanneer beurtkrag toeneem.

Attie Blaauw, hoof van persoonlike onderskrywing by Santam, beveel aan dat ondernemings en individue liefs hul versekeringspolisse so gou as moontlik hersien om baie seker te maak hulle het die regte dekking en dat hulle verstaan wat die vereistes en voorwaardes van die dekking is.

Van hierdie polisvereistes kan moontlik insluit dat jou vrieskas teen kragstuwings beskerm moet wees deur die gebruik van kragstuwing-beskermers, wat by die meeste hardewarewinkels beskikbaar is.

Nog ’n manier om yskaste teen skade te beskerm, is om dit uit te prop voor beurtkrag en dit weer aan te skakel nadat die beurtkrag verby is, aangesien kragstuwings nie ’n toestel kan beskadig wat nie ingeprop is nie.

Kragstuwing-beskermers en beskermde kragproppe kan jou vrieskas teen skade beskerm, maar nie noodwendig jou kos vars hou wanneer die krag vier ure op ’n keer afgeskakel is nie.

Om te verseker dat ’n yskas aan en op die regte temperatuur bly om kos vars en veilig gedurende beurtkrag te hou, is ononderbroke kragtoevoer (UPS) nodig. Dit is egter ’n realiteit dat talle Weskusgesinne nie hierdie soort toestel in hul woning kan bekostig nie.

Prof. Lucia Anelich, een van Suid-Afrika se bekendste en mees ervare voedselmikrobioloë en voedselveiligheidskenners asook die stigter van Anelich Consulting, verduidelik op haar webtuiste verkoelde kos is veilig mits die krag nie vir langer as vier ure af is nie, die yskasdeur toe gehou word en die yskas se temperatuur laag genoeg was, met ander woorde nie hoër as 4 °C voordat die krag onderbreek is nie.

Kos wat gouer bederf, is ’n groot bekommernis vir plaaslike slagterye en winkels, wat varsprodukte soos groente, vrugte, kaas en melk verkoop, en sakelui kreun maandeliks onder reuse bykomende bedryfskostes weens beurtkrag.

Kobus Bekker, die eienaar van Bekker Plaasprodukte in Vredenburg, het aan Weslander vertel sy onderneming se kragrekening in ’n gewone maand – wanneer daar nie beurtkrag is nie – beloop R45 000. Weens die huidige beurtkragsituasie bestee hy ’n bykomende R40 000 per maand om vir diesel vir sy kragopwekker te betaal.

Die temperatuur van een groot yskas in die winkel daal dadelik tot by kamertemperatuur wanneer die krag afgesit word – dit wil sê die vleis en ander produkte sal binne ’n paar uur verkleur en nie meer aan die hoë standaard van varsheid voldoen waarop Bekker en sy personeel hulle roem en waaraan hul klante gewoond is nie. Daarom mag die kragtoevoer na die winkel se yskaste nooit onderbreek word nie.

Bekker verduidelik beurtkrag het ’n enorme negatiewe uitwerking op die plaaslike ekonomie sowel as die verbruiker se sak.

Hy sê daar is ’n groot kettingreaksie weens beurtkrag – al die pad van die boer tot by die winkel, wat onvermydelike prysstygings by die meeste winkels en sakeondernemings veroorsaak.

“Mense sukkel soms om te verstaan waarom ons ons pryse moet verhoog, maar as ’n mens aan hulle verduidelik hoe beurtkrag die hele verskaffingsproses beïnvloed, verstaan hulle gewoonlik beter,” het hy verduidelik.

Bekker sê vars vleis, wat in ’n yskas gestoor word, moet – wanneer daar geen kragonderbrekings is nie – binne 72 uur gebruik word.

Weens die gedurige beurtkrag wat tans ervaar word, word daardie raklewe in die yskas volgens Bekker na net 24 uur verminder. Hy beveel dus aan dat verbruikers vleis en ander varsprodukte in klein hoeveelhede koop soos benodig. Dit moet dan binne 24 uur gebruik word, andersins kan dit in ’n vrieskas gestoor word.

Kos bly heelwat langer veilig in ’n vrieskas, al is daar gereelde beurtkrag. Maar probeer so min as moontlik jou vrieskas en veral jou yskas gedurende beurtkrag oop en toe maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article