’n Verdagte is vroeg Donderdagoggend 2 Februarie net ná middernag ná ’n inbraak by ’n sakeperseel in Dwarskersbos in hegtenis geneem.
Volgens Riaan van Tonder, Fidelity ADT se Weskus-takbestuurder, is ’n gewapende veiligheidswag gestuur om te gaan ondersoek instel nadat ’n alarmsein in Dwarskersbos geaktiveer is.
“Hy is deur die kliënt ontmoet, wat vir hom oopgesluit het sodat hy die eiendom kon deursoek,” het Van Tonder gesê.
Verskeie goedere is in die gebou opgestapel gevind. Die kliënt het aan die gewapende veiligheidsbeampte verduidelik dat hy nie die goed opgestapel gelaat het toe hy die vorige aand die perseel gesluit het nie.
Volgens Van Tonder het die beampte sy inspeksie daarna voorgesit en die inbreker gekry waar hy in die kombuis wegkruip.
Die inbreker is beveel om hom oor te gee en is aangehou totdat die polisie opgedaag en hom in hegtenis geneem het.
“Ons doen ’n beroep op alle inwoners en sakeondernemings langs die Weskus om hul alarmstelsels en batterye gereeld te toets. As jy jou stelsel lanklaas nagegaan het, stel ons voor jy doen dit so gou as moontlik,” is Van Tonder se aanbeveling.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het die voorval bevestig en gesê die verdagte het reeds in die plaaslike landdroshof verskyn. Hy moet op 22 Februarie weer in die hof verskyn.





