Die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) koördineer en bestuur jaarliks die Werk-vir-Water-projek in die Weskus-streek en is weer hard besig hiermee.
Die program is daarop gemik om indringer- en uitheemse plante wat baie meer water as inheemse plantegroei gebruik, te verwyder. In uiterste gevalle ontgroei hierdie uitheemse plante inheemse plante.
Met die toelae wat deur die departement van omgewingsake aan die munisipaliteit toegeken is, het WDM gedurende die 2022/-’23-boekjaar 18 voltydse werksgeleenthede vir individue van die Weskus-gebied geskep.
Tans is die Werk-vir-Water-span besig op die Bergrivier waar hulle uitheemse plantegroei tussen Hermon en Velddrif verwyder.
Die Bergrivier is ’n groot waterbron in die streek en speel ’n sleutelrol met betrekking tot toerisme in die Weskus, verduidelik die munisipaliteit se woordvoerder, Heinrich Robertson.
Die jaarlikse Bergrivier-kanomarathon vind op dié rivier plaas en die skoonmaak van hierdie uitheemse plantegroei dra daartoe by dat die kanomarathon sonder voorval kan plaasvind.
Benewens die skoonmaak en uitroei van plante vorm bykomende opleiding in waterveiligheid, gesondheid, noodhulp en die toepassing van onkruiddoder deel van hierdie program.
Die Weskus-distriksmunisipaliteit administreer en bestuur die Werk-vir-Water-program in die streek deur ’n ooreenkoms en vennootskap met die departement bosbou, visserye en omgewingsake.
Die program is daarop gemik om veral waterhiasinte uit te roei.
Hierdie waterhiasinte, wat met inheemse spesies meeding, skep hindernisse vir ontspanning en verbruik baie meer water as inheemse plantspesies.
Indringerplante hou nie net ’n direkte bedreiging in vir Suid-Afrika se biologiese diversiteit nie, maar ook vir watersekerheid, die ekologiese funksionering van natuurlike stelsels en die produktiewe gebruik van grond.
Die plante verhoog die impak van brande en vloede en verhoog ook gronderosie.





