Gewig was nog altyd ’n teer punt in Laila Bester (Lisinda) se lewe.
Hoewel die Saldanha-inwoner nog altyd ’n ronde figuur gehad het, het sy die besluit geneem om iets drasties daaraan te doen.
Sy het haar naam op die lys gesit vir VIA se nuwe televisiereeks Die Groot Afskud, wat op Dinsdag 24 Januarie op dié TV-kanaal begin het.
Bester vertel die afsterwe van haar broer in Desember 2020 het haar hard getref, en dit het gelei tot ’n ongesonde verhouding met kos.
“Dit was altyd ’n droom van my om gewig te verloor. Al die diëte wat ek probeer het, was nooit ’n sukses nie,” vertel Bester. Sy het ook nie die luuksheid gehad om met professionele mense in die gesondheidsbedryf te werk nie.
Met haar deelname aan die program word sy en die ander vyf deelnemers deur ’n fiksheidsafrigter, sielkundige en dieetkundige gehelp om die kilo’s af te skud.
In die eerste episode het Bester teen 147 kg ingeweeg. Met harde werk, sweet en toewyding het sy ná twee weke 7 kg verloor. Ná die inweeg, sê sy, het sy gemengde emosies gehad. “Ek was opgewonde en die emosies was hoog, maar ek het gevoel ek werk na my doelwit, so ek moet dit bereik.”
“Die ervaring het my geleer wanneer ’n mens iets in die lewe aanpak, moet jy jou siel en hart daarin sit.
“As jy ook dryfkrag het en doelwitte het wat jy wil bereik, kan jy dit doen.”
Volgens die vervaardiger Nicole Bailey gaan Die Groot Afskud oor baie meer as net gewigsverlies.
“Dit ontleed menslike stories van dinge wat ons terughou: traumas uit die verlede, negatiewe oorlewingstegnieke en hoe om ons perspektiewe te herstruktureer om ’n lewe te skep waarvoor ons lief is,” voeg sy by.
Die ses deelnemers is in spanne van twee verdeel en ding om ’n geldprys van R300 000 mee.
Die span wat aan die einde van die ses maande die meeste kilo’s afgeskud het, wen die prys.
Bester sê dit is nooit te laat om ’n verandering te maak wanneer dit by jou gewig kom nie. “Gewigverlies is iets wat jou op die lang termyn gaan goed doen, en dis ’n gesonde belegging in jou lewe.”. DieGroot Afskud word elke Dinsdag om 20:00 op VIA kanaal 147 uitgesaai met heruitsendings Saterdae om 10:00 en Sondae om 11:00.





