Dit is vandag (14 Februarie 2023) presies 10 jaar nadat die naelloopatleet Oscar Pistorius sy meisie, Reeva Steenkamp, in sy huis in die Silver Woods-landgoed doodgeskiet het. Foto: Ice Model Management

Ice Model Management

Valentynsdag word jaarliks op 14 Februarie as die dag van die liefde gevier, tog het dié datum die afgelope dekade ook sinoniem geword met talle opspraakwekkende en interessante nuusgebeure.

Tien jaar ná die skokkende skietdood van Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 aan die hand van haar destydse kêrel, die naelloopatleet Oscar Pistorius, lê dié gebeure, wat wêreldwyd opslae gemaak het, nog vlak in die geheue. Pistorius het aanvanklik aangevoer hy het Steenkamp vir ’n inbreker aangesien, maar is later aan moord skuldig bevind en dien tans ’n 13-jaar-vonnis uit. ’n Aansoek om sy parool word tans oorweeg.

Op 14 Februarie 2015 het die Namibiese president, Hage Geingob kort voor sy amptelike inswering as nuutverkose president met sy derde huweliksmaat, die sakevrou Monica Kalondo, afgehak.

Die boeregemeenskap van Mpumalanga het op 14 Februarie 2017 gesteier onder die nuus dat vier lede van die Smuts-familie op hul plaas Modderbult buite Balfour vermoor is. Louis Smuts (48), sy vrou Belinda (42) en Louis se ouers, Gert (78) en Paulina (77), se lyke is met kopskote gevind. ’n Plaaswerker, Amos Kutu Mthembu, is in 2018 aan die moorde skuldig bevind nadat hy skuld beken het.

Suid-Afrikaners is op 14 Februarie 2018 met die nuus begroet dat oud-president Jacob Zuma met onmiddellike effek uit sy pos as die president van die Republiek van Suid-Afrika bedank het. Die nuus is wyd verwelkom nadat korrupsie-aanklagte al vir ’n geruime tyd oor sy kop gehang het.

Die Greyhound-busdiens het op 14 Februarie 2021 aangekondig dat hy sy dienste ná 37 jaar opskort. Die busdiens het egter van 13 April 2022 onder nuwe eienaarskap na die land se paaie teruggekeer.

Die Greyhound-busdiens het op 14 Februarie 2021 aangekondig dat hy sy dienste ná 37 jaar opskort.

Talle Afrikaanse romantiese komedies het ook oor die jare in die maand van liefde die lig gesien. Pad na jou hart uit die pen van Donnalee Roberts en Ivan Botha is op 14 Februarie 2014 vrygestel, gevolg deur Vir Altyd, wat op 12 Februarie 2016 in teaters begin draai het.

Die gewilde Afrikaanse rolprent Pad na jou hart uit die pen van Ivan Botha en Donnalee Roberts is op 14 Februarie 2014 vrygestel.

Vergeet my nie, met die regisseur André Velts en die vervaardiger Danie Bester, het op 14 Februarie 2020 op die grootskerms verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article