“Pasop, grypdiewe hou jou dop, volg jou oral waar jy gaan en het net sekondes nodig om jou te besteel.”
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, reik hierdie waarskuwing uit nadat’n paar kopers die naweek (Saterdag 11 en Sondag 12 Februarie) by Weskus Mall in Vredenburg van hul persoonlike besittings soos selfone en beursies besteel is.
In een van die gevalle het ’n slagoffer haar selfoon langs haar op ’n bankie neergesit om skoene aan te pas. Haar vriendin het by haar gestaan en nie een van hulle het opgelet toe iemand die foon ongesiens gaps en daarmee verdwyn nie.
Kringtelevisiemateriaal van die voorval het gewys ’n groep mense agtervolg die jong vroue oral in die winkel voordat die foon gesteel is.
Die vermeende diewe, ’n man, vrou en ’n kind, was ewe netjies aangetrek en het gelyk soos ’n gewone gesin wat by die winkelsentrum kom inkopies doen het.
In ’n ander geval by dieselfde sentrum het kringtelevisiemateriaal getoon die minderjarige meisie het by ’n personeelkamer in een van die winkels gaan rondkrap waar die werknemers se handsakke en persoonlike besittings gebêre word.
Helfrich waarsku kopers om asseblief te alle tye hul handsakke fyn dop te hou terwyl hulle gaan inkopies doen en nie met hul selfone in die hand rond te loop nie.
“Hierdie raad geld nie net mense in die Weskus Mall nie, maar alle winkels en winkelsentrums aan die Weskus. Dit kan enige plek gebeur,” het Helfrich gesê.




