’n Onwettige immigrant wat ’n man in ’n sjebien in Clanwilliam vermoor het, is 12 jaar tronkstraf opgelê.Foto:


’n Onwettige immigrant wat in 2021 ’n man in ’n sjebien in Clanwilliam doodgesteek het, is op Valentynsdag ’n swaar gevangenisstraf opgelê.

Volgens ’n verklaring van die Clanwilliam-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die sjebien-moord op Tweede Kersdag, 26 Desember 2021 om 02:20 in Khayelitsha in Clanwilliam plaasgevind.

Die onwettige immigrant, Paballo Kompi (29) en die moordslagoffer het oor ’n sitplek in ’n sjebien gestry.

“Die beskuldigde het sy mes uitgehaal en die slagoffer verskeie kere daarmee binne die sjebien gesteek. Die beseerde slagoffer het na buite gehardloop waar hy inmekaar gestort en gesterf het,” aldus die verklaring.

Daarna het Kompi glo eers te voet van die toneel gevlug en toe in ’n motor geklim om Clanwilliam te verlaat en in Lesotho te gaan skuil.

Volgens die betrokke verklaring wat 15 Februarie uitgereik is, is die voertuig opgemerk en die polisie het die beskuldigde by Colesberg in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op die moordwapen wat die beskuldigde by hom gehad het.

Op 14 Februarie, ongeveer ’n jaar en twee maande ná die moord, is Kompi in die plaaslike streekshof tot 12 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.

Hy het ook ’n vonnis van drie maande, opgeskort vir vyf jaar vir die oortreding van die wet op immigrasie ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article