Die gewilde Jacobsbaai Oppiwa-fees is uiteindelik terug en trek vanjaar ’n splinternuwe baadjie aan.
Kry al die lekkerste mense in jou lewe bymekaar om dié driedaagse fees van Vrydag 17 tot Sondag 19 Maart te geniet.
Oppiwa is oorspronklik deur lede van die Jacobsbaai-gemeenskap op die been gebring om geld in te samel vir die ontwikkeling van Jacobsbaai as ’n toeristebestemming.
Jacobsbaaiers moes egter op 20 Mei 2016 hoor die trekpleister het sy laaste rit gehad weens nasionale wetgewing wat mense verbied om op “geartikuleerde” waens op openbare paaie te ry. Organiseerders het dus die afgelope paar jaar hard agter die skerms gewerk om die fees weer die lig te laat sien.
Buiten die publisiteit wat Oppiwa sodoende vir Jacobsbaai gegenereer het, het die fees ’n groot finansiële bydrae tot Jacobsbaai gelewer.
Só het die Oppiwa-komitee byvoorbeeld geld bewillig vir die bou van ’n wandelpad langs die Jacobsbaai-kuslyn sodat inwoners en besoekers makliker toegang tot hierdie stuk wonderlike natuurskoon kan hê. Die projek word deur die Jacobsbaaise Belastingbetalersvereniging bedryf en finansieel deur Oppiwa ondersteun.
By vorige feeste het trekkerwaens deur die dorp gery en mense het van huis tot huis gekuier en optredes van ons mees geliefde kunstenaars geniet.
Hierdie keer word ’n nog groter en lekkerder fees egter beplan. Stel jou voor ’n feesterrein wanneer jy die dorp inkom en waar almal saam kuier, ou bande verstewig en nuwe vriendskappe en herinneringe bou. Die feesterrein sal drie lokale hê waar vertonings aangebied word, met kunstenaars soos Mathys Roets, Danie Niehaus, Koos Kombuis, Nataniël en ’n handvol ander. Dis nou benewens alles wat te ete en te drinke is en die tipiese Weskus-gasvryheid wat jou oral sal oorrompel en bekoor. Maak dus seker jy kry jou kaartjies.. Besoek www.oppiwa.co.za om jou besprekings te doen.





