Een ding van die Hansens is seker – dié Langebaan-familie kán jukskei speel.
Die agtjarige Peter-John is die jongste Hansen wat in dié inheemse sport naam maak. Sy oupa- en oumagrootjie, Piet en Miemie, het eerste gespeel. Dié egpaar het hul Springbok-kleure in die sport verwerf.
Hul seun Johan, PJ se oupa, het saam met ouma Bets Hansen gespeel. Saam het dié twee Hansens ook naam gemaak en hulle was op hul dag veteraan-Protea-jukskeispelers.
Die derde geslag jukskeiers is Henko en sy vrou, Anna. Henko se broer, Helgard, en hul suster Hanri Strauss het ook hul vernuf in jukskei gewys. Saam met Hanri se man, Johan, het die spelers ook al hul Protea-kleure verwerf.
Dit is dus geen verrassing nie dat pa Henko vir PJ die sport geleer het. “Jukskei is ’n familie-sport, wat beteken die hele gesin of familie kan saam deelneem.
“Jy maak baie vriende van oor die land heen op die verskillende toernooie waaraan jy deelneem,” verduidelik Henko.
Dit is moeilik om te sê wie die beste jukskeier in die familie is, verduidelik Henko. “Ons speel as gesin so nou en dan in ’n span saam, maar die meeste van die tyd ding ons in verskillende spanne en afdelings mee. Dit is buiten die familie-dag, wat ons in Worcester gaan speel – dan speel ons as gesin saam.
“Hopelik kan Oupa en Ouma en al die ooms en tannies almal saam met ons kom speel,” meen Henko.
Jare se ervaring maak oupa en ouma die duo om te klop, maar Henko en oom Helgard is gewis kort op hul hakke.
PJ help nou om op die familie se jukskei-geskiedenis voort te bou.
Vroeër vandeesmaand was dié Weskussers lid van die distrik/provinsiale span wat in Beaufort-Wes die Westelike Provinsie verteenwoordig het by die MP Prinsloo-interdistrikte-toernooi.
Hier het spanne van Eden, Overberg, WP, Kaapse Wynland, Weskus en dan ook Oostelike Provinsie en Noord-Kaap deelgeneem.
“Dit is ’n toernooi waar baie sterk spanne deelneem en daar het ek saam my Pa en Oupa as drie generasies Hansen-mans op dieselfde dag deelgeneem,” verduidelik PJ.
Die knaap sê dit was baie lekker om die medalje te kon wen, veral omdat hy tussen grootmense kon speel. Hy moedig ook ander kinders aan om jukskei te speel.
“Dit is baie belangrik dat kinders jukskei speel, sodat die sport kan voortbestaan en sodat ek maats kan hê om mee saam te speel,” sê PJ. Hoewel hy nie jukskei by sy skool speel nie, is hulle lid van sy plaaslike jukskei-klub. “Ek sal sê jy moet dit net kom beproef, en dan sal jy sien hoe lekker dit kan wees. Ek wil graag nou my maats by my skool hê om saam met my te kom speel.”. Vir meer oor jukskei in die Weskus, kontak Martin Pieterse by 022 707 4540 of 072 275 5558 of stuur e-pos na mjp4sfr@gmail.com





