Vir Weskussers wat dit kan bekostig, kan sonpanele ’n verligting van beurtkrag wees en boonop moontlik belastingvrystelling meebring. Foto: ter illustrasie


Teen vandag (Donderdag) was daar nog geen dae in 2023 sonder beurtkrag nie.

Dit is in teenstelling met die 207 dae verlede jaar en 75 dae in 2021. Die afleiding wat kenners, sakelui en Jan Alleman maak is dat beurtkrag hier is om te bly. ’n Skamele ligpunt vir diegene wat alternatiewe kragopwekking het, is ’n moontlike belastingvrystelling.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het onlangs gesê belasting­vrystellings geld vir ondernemings sowel as individue wat in hernubare energie en kragopwekking belê.

“Vanaf 1 Maart sal ondernemings hul belasbare inkomste met 125% van die koste van hul belegging in hernubare kragopwekking kan verlaag. Daar is geen beperking van die kwalifiserende projek nie en die aansporing sal vir die volgende twee jaar geld om belegging op die korttermyn te stimuleer,” het Godongwana verduidelik.

Individue kan op hul beurt vir belastingvrystellings kwalifiseer indien hulle van sonpanele gebruik maak. Die installasie moet egter ná 1 Maart plaasvind om vir vergunning te kwalifiseer. Belastingbetalers sal vir 25% van die koste van die sonpanele, tot en met R15 000, die belastingvrystelling kan geniet. Dit sal vir ’n jaar geld.

Om van Eskom-krag na ’n sonkrag-opwekkingstelsel te gaan blyk egter nie so maklik te wees soos dit klink nie.

Volgens Jeanne-Mari Boonzaaier van Coastline Solar is daar beslis ’n nasionale voorraad tekort in die sektor.

“Ons is gelukkig om genoeg verskaffers te hê en ons het nie self ’n tekort nie, maar daar is beslis ’n tekort,” verduidelik sy. Boonzaaier sê die bedryf is besiger as ooit.

Die vraag na sonpanele kom onder alle Weskussers voor met almal van ondernemings tot huishoudings wat nou sonkrag wil gebruik. ’n Algemene, eenvoudige stelsel sal ’n huishouding sowat R130 000 uit die sak jaag.

Om ’n stelsel op die dak te plaas kom egter met reëls en voorskrifte. Die Saldanhabaai-munisipaliteit het voorheen verduidelik enige sonpaneel-stelsel moet by die munisipaliteit geregistreer word.

Ethne Lawrence, munisipale woordvoerder, het verduidelik in die geval waar daar elektrisiteit eens van die munisipaliteit verkry is, sal ’n nuwe meter geïnstalleer word. Ná die installasie sal die vorige meter afgesluit word.

Die oplewing in die sektor blyk ook ’n mark te skep vir kansvatters.

Weslander het onlangs ’n klagte van ’n leser ontvang wat aanvoer die installeerders van haar huishoudelike sonpaneel-stelsel het hulle in die steek gelaat. Volgens die leser, wat anoniem wou bly, het hul gesin ten duurste ’n stelsel laat installeer.

Nadat die stelsel nie gewerk het soos dit moet nie, is daar ’n fout met die toerusting gevind. “Die installeerder en die verskaffer wys nou die vinger na mekaar. Niemand wil pa staan nie en ons stelsel werk nie,” het die leser gekla.

Hoewel sonpanele ’n opsie is vir Wes­kussers en dit selfs ’n belasting­vrystelling kan beteken, moet daar maar intussen vrede gemaak word dat beurtkrag hier is om te bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article