Tarryn Lamb en Frank Freeman besoek die Weskus. Dié twee kom op die verhoog byeen vir ’n intieme duo-vertoning in Paternoster by Die Koelkamers op Vrydag 17 Maart.
Die kombinasie van Tarryn se goue stem en aansteeklike verhoogpersoonlikheid, tesame met Frank se emosiebelaaide kitaarspel en sang, is nuwe terrein vir albei kunstenaars.
Volgens Tarryn is hulle baie opgewonde om weer na die pragtige dorpie Paternoster te toer.
“Dit het ’n manier om jou te laat voel of jy op ’n plek verder weg is as wat dit werklik is en tog voel dit terselfdertyd 100% Suid-Afrikaans. Die Koelkamers is ’n wonderlike ruimte wat bestuur word deur wonderlike mense wat werklik die kunste respekteer. Dit is ’n omgewing waarin enige kunstenaar floreer,” vertel Tarryn.
Baie van die musiek wat die duo Paternoster toe bring, sal vir die heel eerste keer gehoor word.
Splinternuwe verwerkings van Tarryn se grootste treffers soos “Mal oor jou”, “Geheueverlies” en “Vier woorde” sal ook deel van die program wees – net op ’n nuwe manier soos jy hulle nog nooit vantevore gehoor het nie.
Frank het baie nuwe en oorspronklike materiaal vir hierdie vertoning gekomponeer, terwyl hulle ook die jongste enkelsnit van sy nuwe groep Volk met die titel “Tussen Die Lyne” gaan uitvoer.
Die vertoning op 17 Maart begin om 19:00.
Kaartjies kos tussen R180 en R300. Vir besprekings besoek www.diekoelkamers.com



