Die kapteins – en hul spanne – is gereed vir die Transnet Saldanha Super-8 Paastoernooi. Agter van links is Benjamin Dwayi (Safcol), Daniel Temm (Saldanha), Bertram Vraagom (toernooidirekteur), Hyco Jacobs (Roses United) en Deon Plaaitjies (Progress). Voor is Chesvill Muller (Bella Vista) en Daniel Roberts (Tygerberg). Foto’s: Noluvu Ludidi


Rugbyliefhebbers tel nou die dae tot die afskop van die Transnet/Saldanha Paastoernooi 2023 wat Vrydag amptelik bekend gestel is.

Organiseerders van dié gewilde toernooi het Vrydag tydens die bekendstelling by die Langebaan Country Estate hul borge, die deelnemende spanne en ondersteuners verwelkom vir die vierde aflewering van die toernooi.

Die toernooi vind oor Paasnaweek, 6 tot 10 April, in die Transnet/Saldanha-stadion plaas.

“Ons boodskap aan die spelers, ondersteuners en bestuur is dit is natuurlik goed om hier as kampioene te wil wegstap, maar ons hoop is dat die toernooi-ervaring blywende verhoudings bou. Mag daar ’n gevoel van broederskap onder die spanne wees.

“Dit is ’n moeilike toernooi – drie strawwe wedstryde oor vyf dae. Die ervaring moet gebruik word om karakter te bou, spangees te bou, maar bo alles om die lewe te vier,” het Bertram Vraagom, toernooidirekteur, verduidelik.

Hy het beloof die klein jakkalsies wat by vorige toernooie opgeduik het, sal uitgeroei word en het die spanne gemaan om goeie dissipline toe te pas.

Vraagom meen alle spanne wat vanjaar deelneem, is gereed om te seëvier en as die kampioene gekroon te word. Progress, Bella Vista, Tygerberg, Crusaders, Roses, Safcol, die Gauteng Raiders en die gasheerspan sal vanjaar om die Louis Scheepers-wisseltrofee meeding. Dié trofee is genoem na wyle Scheepers, Saldanha-munisipaliteit se voormalige munisipale bestuurder en deel van die span wat die toernooi op die been gebring het. Hy is in 2021 weens Covid-19 oorlede.

Benewens die rugbyaksie is netbal ook vir die eerste keer deel van die toernooi.

Diegene wat nie op die paviljoen kan wees nie, kan regstreeks op SuperSport na die wedstryde kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article