’n Entrepreneur van Saldanha is by sy huiswinkel beroof en met ’n mes aangeval nadat hy ’n man gevra het om nie voor sy winkel te rook nie.

Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het die voorval Saterdagmiddag (25 Maart) om 15:45 in Hopland by Diazville in Saldanha plaasgevind.

’n Man het voor ’n huiswinkel in die betrokke straat gestaan en rook en die winkeleienaar het hom gevra om asseblief voor die winkel weg te beweeg aangesien die rook hom pla.

Die roker het toe glo in ’n stryery met die winkeleienaar betrokke geraak. Hy het na bewering ’n mes uitgeruk en die winkeleienaar tydens ’n struweling daarmee in die rug en op die arm gesteek.

Daarna het die aanvaller glo R3 000 kontant uit die winkel gebuit en gevlug.

Volgens Kotze is ’n jong man (24) later dieselfde dag met betrekking tot hierdie voorval in hegtenis geneem. Die verdagte het Maandag (27 Maart) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

’n Saak van huisroof word deur die Saldanha-polisie ondersoek.

Kotze het by navraag aan Weslander gesê die motief vir die huisroof is nog onbekend. Die polisie kan nie voortydig bespiegel of die aanvaller se voorneme van die begin af was om die winkel te beroof toe hy voor die perseel gestaan en rook het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article