Hans steek die Rubicon oor, die eenmantoneelstuk deur Rudie van Rensburg met Charlie Bouguenon, word by Die Koelkamers in Paternoster opgevoer op Saterdag 15 en Sondag 16 April.
Op 90 jaar oud is Hans nog springlewendig. Sy kinders boender hom egter vanuit hul tuistes in die buiteland uit sy lekker huis in die Kaap in Huis Madeliefie in. Hans se vindingryke pogings om uit Huis Madeliefie te ontsnap word deur sy kinders en ’n drakoniese matrone in die wiele gery.
Maar Hans laat hom nie voorskryf nie, en sy rebelsheid het geen keer nie. Vinnig is daar groot konsternasie in die tehuis. Hans se vele, en soms verdagte, nuwe vriende sorg vir groot pret en heelwat moeilikheid. Van daggakoekies en ’n boeremafia tot ontkleedansers en protesaksies – Huis Madeliefie word onderstebo gekeer. Hans se storie is ’n storie van ons tyd. Sy omstandighede is dié van vele ouer Suid-Afrikaners wie se kinders die land verlaat het. Hans se manewales sal oud en jonk laat skaterlag.
Die vertoning begin om 18:00 op Saterdag 15 April en om 12:00 op Sondag 16 April. Kaartjies kos tussen R184 en R322. Vir besprekings, besoek www.diekoelkamers.com




