Dinsdag 18 April het die 100-dae-merk ingehuldig voordat die eerste fluitjie vir die eerste netbal-wêreldbekerwedstryd in Kaapstad sal blaas wanneer die 2023-netbal-wêreldbeker vanjaar die eerste keer sedert die toernooi se ontstaan in 1963 in Afrika aangebied word.
Hoewel die Protea-netbalspan die afgelope jare op internasionale vlak uitstekende prestasies op die baan gelewer en ook talle spelers opgelewer het wat vir internasionale spanne gekies is, is tot nou min erkenning en finansiering aan die sport bewillig. Die toekenning van die bod aan Suid-Afrika om die 2023-wêreldbeker in Kaapstad aan te bied, bring nie net die nodige erkenning aan die sport nie, maar hou ook talle ekonomiese voordele in wanneer internasionale spanne en hul ondersteuners op die Moederstad toesak.
Plaaslik trek netbal-federasies ook voordeel hieruit, met 22 netbalbane oor die provinsie heen wat reeds opgeknap is, met die oog om uiteindelik 48 bane op te knap.
Dit was ook die doel van minister Anroux Roux se besoek Dinsdag aan Hopefield, waar die nuwe netbalbane by die Ronnie Louw-sportterrein ter viering van die 100-dae-merk vir die netbal-wêreldbeker geopen is – nie net om ondersteuning vir die toernooi te werf nie, maar ook om plaaslike netbal te bevorder en aan te moedig.



