Rita Boshoff (88) en Stef Dicks (78) het met die Megaforce Weskus Motorfietsklub se besoek aan Huis Wittekruin bewys dat ouderdom werklik net ’n nommer is.
Hulle was Saterdag 22 April eerste om valhelms op te sit en agterop twee van die spoggerige motorfietse te klim om ’n rit op die perseel mee te maak.
Die groep bikers het inwoners en personeel op kort ritte op die perseel geneem, en is beloon met drukkies, breë glimlagte en selfs ’n uitbundige: “Ek is nou ’n biker girl!”.
Tannie Rita, wat saam met Ockert Wolmarans gery het, wou amper nie afklim nie en het gesê dat die rit haar erg laat terugverlang na die tyd wat sy en haar oorlede man op sy Harley Davidson gery het.
Só het die oues van dae – “maar jonk van gees”, soos een inwoner beklemtoon het – vele staaltjies oor húl dae van motorfietsry en jonkwees gedeel terwyl die bikers boerewors oor die kole gebraai het. Klublede het later worsbroodjies aan die inwoners bedien.
Die tehuis se dak is behoorlik gelig met die brullende enjins tussendeur die leefreg-huise. Inwoners het entoesiasties deur die vensters en van hul stoepies af gewaai en video’s gemaak.
Cést la vie, met lede Michelle van Zyl, André en Jorina de Beer, het terselfdertyd lekker luisterliedjies vir die inwoners kom sing, waarop van die inwoners lekker met klublede gedans het.
Ter ondersteuning van die bederfdag het ’n groep skoonheidstegnologiestudente van die Elizabeth Augustin-akademie van gesondheid en skoonheid inwoners verder bederf. Die inwoners het lekker gesels en al die liefde geniet terwyl hul hande en voete gemasseer is.
Megaforce Weskus se skenking van nagenoeg R6 000 het benewens worsbroodjies vir die hele tehuis ook seep, sjampoe en ander persoonlike benodigdhede ingesluit.
Karin Hubbard, Huis Wittekruin-bestuurder, het haar dankbaarheid teenoor Megaforce Weskus uitgespreek en gesê dat hulle besoek ontsettend baie vir die inwoners én die personeel beteken het. Sy het voorgestel dat dit ’n jaarlikse instelling word.
Paul Pretorius, klubpresident, bedank al die besighede wat die dag deur hul finansiële bydraes moontlik gemaak het: Alex Alarms, Alunite, Beans Trust, Bekker Plaasprodukte, Checkers Langebaan, Coastal Tool Hire, GA Civils, LouRisk Consulting, PnP Vredenburg, Salon Jaco, Suzuki Vredenburg, Swemmer & Levin en Vredenburg Motormark.





