St. Helenabaai het Saterdag in Velddrif gewys dat ’n wedstryd ná 80 minute gewen word toe dié span die tuisspan met 25-31 geklop het.
Die besoekers uit die Agterbaai, wat rustyd 15-18 agter was, het nie rekening met die tuisspan se veggees gehou nie.
St. Helenabaai het die wedstryd met ’n vinnige tempo begin en gou 12-0 voorgeloop. Met ’n rugbyles wat op die tuisspan wag, het die span met ware karakter en veggees terugbaklei om rustyd voor te wees.
St. Helenabaai se wil om te wen het in die tweede helfte sterk na vore gekom en die tuisspan, wat by tye moes verdedig vir al wat hul werd was, kon nie die besoekers keer nie. Die tweede helfte was nietemin baie gelyk met beide spanne wat goed verdedig en aanvallende rugby gespeel het. St. Helenabaai het hul kanse beter benut.
Die tweede helfte se gelykopstryd het egter aan die meer honger besoekers behoort, wat in die laaste paar minute die tuisspan se doppie geklink het. Met die tuisspan wat met slegs ’n paar minute se speeltyd oor steeds voor was, het die besoekers van hul eie gebied aangeval en twee drieë gedruk om ’n bonuspunt-wen te verseker – met die tuisspan se ondersteuners wat wonder wat vir hul span verkeerd geloop het.
Paternoster het Saterdag sy onoorwonne status behou toe die span Vredenburg se Burg Boys met dié kous oor die kop huis toe gestuur het. Paternoster het die derby 17-13 gewen en is tans die enigste onoorwonne span in die streek.
St. Helenabaai, wat tans met Saldanha die vroeë voorloper op die punteleer is, sal die naweek wil voortbou op sy vertonings as hy Paternoster tuis pak. Paternoster sal ook sy onoorwonne status wil behou.
Velddrif, wat na Saldanha reis, het ook ’n punt om te wys, naamlik dat die span wel oor die wil om te wen beskik.
Mamre, wat tans ’n goeie seisoen beleef, sal Langebaan onthaal en ’n voltal punte sal die groen truie se posisie op die punteleer verbeter.
Volledige uitslae en spelrooster
Weskus: Langebaan 21-23 Saldanha, Young Hearts 20-13 Piketberg, Paternoster 17-13 Vredenburg, Velddrif 25-31 St. Helena, Mamre 42-15 Koringberg.
Swartland: Never Despairs 13-13 Wesbank, Saron 24-17 Riebeeck United, Abbotsdale 83-42 Moorreesburg, Villagers Wittewater 8-22 Porterville, Goodhopes 27-25 Darling.
Wedstryde Saterdag, 6 Mei: Saldanha t. Velddrif, St Helena t. Paternoster, Vredenburg t. Young Hearts, Hopefield t. Koringberg en Mamre t. Langebaan. Piketberg loslootjie.





