’n Driemanskap van skelms het Sondagmiddag ’n kettingwinkel in die Weskus Mall, Vredenburg, geteiken en skeermesse van amper R12 000 gesteel. ’n Vrou (31) van Ongegund, Vredenburg, is in hegtenis geneem nadat die goedere in haar besit gekry is. Sy het op Dinsdag (2 Mei) in die Vredenburg-landdroshof verskyn. Die verdagte en haar twee medepligtiges, ’n man en vrou, het na die kosmetiese ry gegaan en die artikels in die verdagte se handsak, wat in die waentjie versteek was, gesit. Die man en vrou het daarna uit die winkel geloop. Die verdagte het wel vir water en brood betaal en is toe daar in haar spore gestuit.
’n Vragmotorbestuurder het Vrydagnag langs die N7 naby Clanwilliam afgekom op die lyk van ’n 35-jarige man wat klaarblyklik doodgery is. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. Enigiemand met meer inligting word versoek om in verbinding te tree met sers. Frikkie Petoors by 027 482 8500.
’n Kapenaar is Sondagoggend omstreeks 10:20 op die Weskuspad (R27) voorgekeer omdat hy teen 166 km/h gejaag het. Die 34-jarige man van Brackenfell in die Kaap staar nou ’n klag van die oortreding van die Nasionale Padverskeerswet 93 van 1996 in die gesig. Hy sal binnekort in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Tydens ’n roetine stop- en deursoek-operasie Maandagaand op die N7 naby Clanwilliam is ’n 28-jarige man van Lutzville in hegtenis geneem vir dwelmhandel. Die minibus waarin die verdagte gery het, is voorgekeer en die passasiers deursoek, waarop die polisie op Mandrax-tablette afgekom het. Die verdagte sou gister, 3 Mei, in die Clanwilliam-landdroshof verskyn.
Nadat die polisie Saterdagaand ’n 25-jarige man in Moorreesburg in hegtenis geneem het, het hy erken dat hy die dagga wat hy by hom gehad het, wou verkoop. Hy verskyn binnekort in die Moorreesburg-landdroshof.
Die tuinier van ’n vrou van Ongegund, Vredenburg, het haar Saterdag klaarblyklik met ’n skroewedraaier in haar huis rondgejaag en beroof. Die man is in hegtenis geneem en verskyn binnekort in die Vredenburg-landdroshof



