Die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek twee sake waarin smokkeldiamante en -robyne in April en Mei op die N7 naby die Klawer-weegbrug gekry is.

Die padblokkades waarin eers Moses Sibunda (33) en Kennedy Masimba (46) van Malawi, en ’n week later Gregory Wentzel (43) vasgetrek is, vorm deel van “Operasie Restore”, ’n gesamentlike teenmisdaadoptrede wat in- en uitgangsroetes na die Wes-Kaap teiken.

Volgens sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder, word Wentzel aangekla vir die onwettige besit van 344 ongeslypte diamante en 1 030 ongepoleerde robyne.

Hy het Donderdag 4 Mei in die Vanrhynsdorp- rondgaande hof verskyn, waar die saak tot Donderdag 18 Mei vir verdere ondersoek uitgestel is.

Sibunda en Masimba is in April in hegtenis geneem nadat 29 ongeslypte diamante en 3 ongepoleerde robyne ter waarde van R127 240 by hulle gekry is. Hulle het Dinsdag 2 Mei in die Klawer-landdroshof verskyn, waar die saak uitgestel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article