Tussen die WhatsApps van vriendinne se selfies en snaakse memes verskyn ’n video waarop die kyker eers net sand sien. Bo in die regterhoek lê iets wat lyk soos ’n vrou. Met die druk van die driehoekpyltjie tref die verskriklike waarheid: dit is ’n vrou wat met net ’n swart broek aan leweloos op die strand by Tabakbaai lê.

Dít was die uiters skokkende manier waarop die familie van die 34-jarige Fillda Patricia Vaughan van Diazville moes uitvind dat sy dood is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskusdistrik, het sekuriteitsbeamptes op Donderdag 18 Mei omstreeks 09:30 op die halfnaakte lyk op die strand afgekom.

Op die video, wat wyd en syd gedeel is, en ook na Weslander gestuur is, word duidelik bespiegel oor wie moontlik vir die daad verantwoordelik is. Helfrich het hierop gesê dat die polisie reeds onderhoude met mense van belang gevoer het, maar totdat die uitslag van die lykskouing, wat gister (Woensdag 24 Mei) gehou word, bevestig dat Vaughan vermoor is, bly dit nog net ’n geregtelike nadoodse ondersoek.

“Indien die verslag daarop dui dat sy wel vermoor is, sal ’n klag van moord geopen word.”

Hoewel die presiese oorsake van Vaughan se dood ook deur die lykskouing bepaal sal word, het sy, volgens Helfrich, onder meer ’n bytmerk van ’n mens aan haar skouer en veelvuldige beserings aan haar lyf.

Helfrich het benadruk dat mense wat op so iets afkom asseblief onmiddellik die polisie moet bel. In Vaughan se geval het die sekuriteitsbeamptes eers wetstoepassers van die Saldanhabaai-munisipaliteit laat kom, waarná die polisie eers in kennis gestel is.

Teen daardie tyd was daar al ’n groep omstanders om die lyk en een van hulle het die video geneem. Helfrich het die rondstuur van ’n oorledene se foto as uiters onsensitief bestempel.

“Dit is as sodanig nie verkeerd nie, want dit kan later as getuienis gebruik word, maar die een wat dit op sosiale media versprei het, kan strafregtelik vervolg word” het Helfrich gesê.

Sy waarsku die publiek om hulle nie daaraan skuldig te maak om foto’s van misdaadtonele op sosiale media te versprei nie omdat dit daadwerklik met die polisie se ondersoeke inmeng.

Pogings om met die oorledene se familie kontak te maak was teen druktyd onsuksesvol.

Enigiemand met meer besonderhede word gevra om AO Heinrich Schmidlin, die ondersoekbeampte in die saak, by 079 894 0082 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article