Hoewel ’n lewe op die see nie iets vir Rokeisha Jeffries was nie, help haar verbintenis met die vissersbedryf haar toekomsplanne.
Jeffries (19) het Maandag amptelik ’n beurs van die Weskus-visserskoöperasie beperk (WVK) ontvang.
Die koöperasie is meer as 30 jaar gelede gestig om afgetrede pelagiese vissers by te staan.
Die WVK het vanjaar die eerste keer ’n beurs beskikbaar gestel en Jeffries is uiteindelik as die begunstigde gekies.
“Die beurse help regtig baie. Wanneer my ouers nie my kampusgeld kan betaal nie, is daar altyd familie en vriende wat inspring, maar hierdie beurs beteken ons hoef nie meer bekommerd te wees nie,” verduidelik sy.
Jeffries se klas- en losiesgeld vir die jaar is nou danksy haar WVK-beurs gedek.
Jeffries is besig om as siviele ingenieur te kwalifiseer. Sy het net Maandag, voor die oorhandiging by die WVK-kantoor in Vredenburg, haar uitslae ontvang wat sê sy kan nou haar N4-vlak voltooi.
Wanneer sy N6 voltooi het, beplan sy om ’n jaar by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie te voltooi om haar graad te verwerf.
Aansoekers vir die beurs moes minstens een ouer in die pelagiese visbedryf in die Weskus hê. In dié Laingviller se geval is dit haar pa, wat deesdae ’n werknemer van Lucky Star is. Haar ma het ook destyds jare lank by ’n visfabriek gewerk. “Die vissersbedryf was nie vir my nie, maar my pa is my hele lewe lank ’n visserman. Ek het siviele tegnologie as vak by Hoërskool Weston geneem en dit was altyd interessant. Dit is altyd beter om formules en somme uit te werk as om te leer,” meen sy.
Jeffries het reeds planne vir wanneer sy haar studies aan Northlink Kollege voltooi het. Sy verduidelik haar oupas was ook almal Weskus-vissermanne en as lid van ’n vissersgemeenskap besef sy wat dit is om van die see afhanklik te wees. Sy sê dit is juis haar ouers se opoffering om hul beste vir haar en haar ouer broer te gee wat haar inspireer om altyd haar beste te gee.
Sy meen deur ’n siviele ingenieur te word, kan sy nie net haar familie nie, maar ook haar hele gemeenskap help.
“Ek wil graag help om Laingville se infrastruktuur te verbeter. St. Helenabaai is al dorp wat geen verkeersligte het nie. Daar is nie baie geleenthede op die oomblik nie – dalk die munisipaliteit – maar dalk wanneer ek klaar studeer het, sal hier werk wees. Ek wil baie graag in my gemeenskap terugploeg.”
Volgens Jaco van der Westhuizen van WVK glo hulle die beurs sal Jeffries help op haar pad na sukses en die organisasie beoog om die beurs jaarliks vir plaaslike studente beskikbaar te stel.





