Die haarkappers by Bikini Barber in Langebaan is van links Naz Green (44), Taryn Arendse (26), Kelsey Le Fleur (21) en Melanie van Dorp (25).Foto: Bikini Barber


Ja, hulle het reaksie verwag met die konsep van ’n manshaarsalon waar die haarkappers en masseuses nie alledaagse konserwatiewe klere dra nie, maar hul werk in eina-bikini’s verrig.

Maar, meen Marlizé Erasmus, bemarkingsbestuurder, die spoed waarteen Bikini Barber in Langebaan se opening op sosiale media en in die gedrukte media ontplof het, het hulle onkant gevang. Sy beskou die felheid en snedigheid waarmee sommige mense hul teenkanting teen die sakeonderneming uitspreek, as ’n geboeliery wat nou so erg geword het dat dit aan “verbale verkragting” grens. “Hulle probeer ons kleinsakeonderneming kelder deur die vroue as hoere en prostitute af te maak.”

Die eienaar kry soveel dreigemente dat sy ter wille van haar gesin se veiligheid verkies om anoniem te bly. Volgens Erasmus kry sy ook teenkanting omdat sy Langebaan gekies het, maar “dit maak sin, omdat Langebaan ’n vakansiedorp is. In Amerika word soortgelyke bikini-manshaarsalonne veral in kusdorpe suksesvol bedryf. Dit is egter ’n eerste vir Suid-Afrika,” het Erasmus gesê.

Sy meen dat dit nou tyd is dat die geboeliery einde kry. “Dis waarom ek ’n teenboelieveldtog begin het,” vertel Erasmus. “Ons moet standpunt inneem en op sosiale media terugkap.”

“Die vier vroue wat hier werk, almal plaaslike mense, verdien dit nie. Hulle is oulike, opgevoede meisiekinders wat ’n geleentheid aangegryp het,” het sy gesê. Twee van die vroue is besig met ’n kortkursus in manshaarkappery by die Hair Academy op Langebaan waarvoor Bikini Barber betaal. Die onderneming staan ook een vrou by om haar matriekkwalifikasie te kry.

“Ons bied aan hulle ’n gelukkige, veilige werksomgewing. Hulle word opgelei om vatterige kliënte in te lig dat indien hulle dit weer sou doen, hulle onmiddellik die salon moet verlaat.” Indien ’n kliënt besonder opgewonde raak oor die skamelgeklede vroue, “kan die haarkappers dit buitendien nie sien nie, want dit gebeur onder die haarsnymantel en swaar borslap wat alles toemaak,” verseker Erasmus, en daar was nog nie so insident by haar aangemeld nie.

Benewens die opleiding en die voorvereiste dat die vroue darem mooi in ’n bikini moet lyk, verskaf die onderneming ook hul werkstoerusting, grimering en klere, én die salon is verhit, verseker Erasmus.

Sy benadruk dat hulle presies dieselfde dienste as ander barbiere en salonne aanbied, van die versorging van mans se hare, baarde, kopvelle en hande tot verskillende soorte masserings met essensiële olies. En dit is net hier waar daar ’n reuse-misverstand ingetree het, verduidelik Erasmus. Die aanvanklike bemarking is deur ’n jong, onervare vrou gedoen wat die eienares verkeerd gehoor het. “Die eienares wou in die advertensie hê dat daar staan dat Bikini Barber ‘essential’ masserings aanbied, terwyl die bemarker toe ‘sensuele’ masserings hoor.” Erasmus sê dat die eienares die fout onmiddellik agtergekom en die Facebook-inskrywing verwyder het, maar ’n skermgreep daarvan is oral gedeel.

Die salon se kliënte is net mans, hoewel daar al ’n vrou, wat ook haar hare ge-fade wil hê, navraag gedoen het. “Ons het doodgewone manskliënte wat tevrede met ons professionele diens is.”

Volgens Erasmus sny twee van die vroue hare terwyl die ander twee gekwalifiseerde masseuses is. “Almal doen nie alles, soos wat gesuggereer word nie.”

Terwyl die meeste haarkappers wat al dekades lank in die Weskus hare sny net hul koppe skud oor die praktiese sy van haarsny in ’n bikini, én vroue wat dreig om “af te sny” sou hulle mans dit daar waag, bly Bikini Barber vol bespreek, maak die onderneming geld en is daar planne om binnekort nog ’n tak in Paardeneiland oop te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article