Die Weskus-distriksmunisipaliteit is onlangs deur die Wes-Kaapse regering vir sy bydrae tot kusbestuur in die provinsie vereer.
Die munisipaliteit se kusbestuur-projek, wat as die Expanded Public Works Programme (EPWP)-skoonmaakintervensie begin het, het uitgebrei om verskeie kusbestuur- en biodiversiteitsaspekte ingevolge die geïntegreerde kusbestuurwet in te sluit.
Die distriksmunisipaliteit het ’n silwermedalje by die provinsiale regering se prysuitdeling vir uitnemende diens in die afdeling vir die beste munisipale projek ontvang.
Die projek, wat die kusgebiede van die Bergrivier, Elandsbaai en Papendorp insluit, dek ongeveer 120 km.
Benewens die positiewe uitwerking wat die projek op die Weskus-omgewing het, verminder hierdie projek ook werkloosheid en dra dit by tot vaardigheidsontwikkeling in die streek. Werkers word opgelei en toegerus met vaardighede om te verseker hulle kan entrepreneurs word of by alternatiewe werkgewers werk.
Volgens Charles Malherbe, die projekbestuurder by die Weskus-distriksmunisipaliteit, is dit ’n holistiese kusbestuursprogram en sluit dit verskeie projekte in.
“Ons probeer buigbaar en pro-aktief wees wanneer ons met kusbestuur-intervensies begin. Projekte sluit in die skoonmaak van strande en riviermondings, verwydering van dooie walvisse en robbe, ondersteuning tydens rooigety, bystand tydens voëlgriep-uitbrekings en aanmeld van onwettige aktiwiteite aan die kusgebiede,” het Malherbe verduidelik.
Buiten hierdie toekenning het die Weskus-distriksmunisipaliteit ook ’n bronsmedalje in die afdeling vir die beste munisipaliteit wat holisties na munisipale prestasie kyk, ontvang.




