Afrikaans-klasse word nou in die hartjie van Parys, Frankryk, aangebied.


Op ’n onlangse vakansie in Parys bevind ek en my reisgenoot ons een koue aand in die pragtige nuwe Nederlandse sentrum in ’n tipiese klein Paryse straatjie, ’n klipgooi van die Assemblee Nationale, die laerhuis van die Franse parlement.

Hier is ons op uitnodiging van my vriendin en oud-Paarliet Sonya van Schalkwyk-Barrois.

Sonya is reeds 30 jaar in Parys, maar sy het hoegenaamd nie haar geliefde moedertaal agtergelaat nie. Inteendeel, sy het haar twee Franse dogters met Afrikaans as tweede taal in die hartjie van Parys grootgemaak. En boonop is Sonya al jare lank bekend as die vertaler van die immergewilde Asterix en Obelix, asook Kuifie, na Afrikaans.

Onlangs het ’n nuwe taal-avontuur vir Sonya aangebreek met die eerste formele Afrikaans-beginnerskursus wat in Parys by die Nederlandse taal- en kultuuronderrigsentrum in die hartjie van die Franse hoofstad begin het.

Die gedagte het verlede jaar ontstaan toe Sonya, ’n Paarliet en oudleerder van La Rochelle, aan ’n literêre vertalingswerksessie by die Nederlandse sentrum deelgeneem het. Hier het sy en die hoof van die sentrum, Ed Hanssen, oor Afrikaans gepraat en kort hierna is die idee van Afrikaans-klasse hier gebore.

“Afrikaans word reeds suksesvol in ander Europese lande gedoseer, byvoorbeeld Pole, dus hoekom nie ook in Frankryk, een van ons voorsate se stamlande, nie?”

Die Nederlandse sentrum word in samewerking met die Nederlandse ambassade in Parys gehuisves. Hier word Nederlandse taalkursusse, kunsgeskiedenislesings en kulturele aktiwiteite aangebied. Daar is ook ’n literêre kafee, met literêre vertalingswerksessies en dies meer.

Om dit nog mooier en lekkerder te maak, is dit ’n uitstalruimte vir wisselende tentoonstellings van Nederlandse kunstenaars en ontwerpers.

En nou word in hierdie spesiale plek in Parys ook Afrikaans gepraat.

Met die Afrikaans-klas wat ons bygewoon het, het Sonya ons in Afrikaans aan haar studente voorgestel. Sy het selfs ’n kort uitgedrukte beskrywing van Paarl Post (susterskoerant van Weslander), asook die koerant waarvan dit ’n afstameling is, Die Afrikaanse Patriot, aan haar studente uitgedeel om hul gaste te verwelkom.

Met ons bywoning van die aandklas was drie mans – almal inwoners van Parys – by die sentrum en ’n vierde aanlyn uit die Franse streek Bretagne. Die vyfde student was afwesig weens reisverpligtinge.

Die klasse is heel informeel en Sonya skep eerder ’n gesprek met haar studente oor hul alledaagse bedrywighede, soos byvoorbeeld wat hulle die dag te ete gehad het.

Almal praat lekker saam – effens stadig – en die uitsprake wissel, maar ná slegs vyf maande van weeklikse klasse is hulle heel verstaanbaar.

Hulle stel hulle een vir een aan ons voor.

Tomas is die oudste in die groep en praat reeds Nederlands. Hy het besluit om Afrikaans te leer omdat hy ’n belangstelling in die land se geskiedenis het en hy beskou die taal as uniek en skaars.

Hy haal ook ’n paar Franse Nelson Mandela-posseëlgedenkkoeverte uit, wat hy aan sy medestudente uitdeel, asook een aan my.

Olivier het Protestantse teologie gestudeer en beplan om oor ’n paar jaar, wanneer hy aftree, sy meestersgraad in teologie aan die Universiteit Stellenbosch te voltooi.

Sy belangstelling is ook aangewakker met die lees van die Engelse weergawe van die geskiedkundige boek Die Afrikaner deur Hermann Giliomee.

Die Franse was immers meer as 100 jaar gelede groot ondersteuners van die Boerestryders tydens die Anglo-Boereoorlog.

Fabian, die aanlyn student van Bretagne, is ook ’n joernalis, wie se politieke skrywe al in Rapport verskyn het. Sy belangstelling in die Afrikaanse taal is veral omdat hy dit as ’n onderdrukte en minderheidstaal beskou.

Inwoners van Bretagne het juis hul eie Keltiese taal, wat teruggedateer kan word na die Romeinse tye. Hierdie taal word steeds deur geharde en trotse inwoners van die gebied gepraat, van wie talle Bretagne eerder as ’n onafhanklike staat wil sien.

Die vierde student in die aandklas, Scott, is oorspronklik van New York in die VSA, maar hy het 20 jaar in Johannesburg gewoon sonder dat hy Afrikaans leer praat het.

Vandag het hy sy eie kunsgalery in Parys, en toe hy van die Afrikaans-klasse in Parys te hore kom, het hy die geleentheid aangegryp om uiteindelik die taal te leer praat.

Scott stal heelwat werke van Suid-Afrikaanse kunstenaars in sy ateljee uit, en tans bied hy ’n uitstalling van die werke van die legendariese Suid-Afrikaanse fotograaf Jürgen Schadeberg aan.

Dit is die eerste keer dat so iets in Parys aangebied word, en Sonya het self spesiale handleidings en lesmateriaal opgestel wat op haar Franssprekende leerders gerig is.

Die klasse is gemik op mense wat byvoorbeeld familie- of werkbande met Suid-Afrika het, studente wat van voorneme is om in die land te gaan studeer, reisigers wat deur Suid-Afrika gelok word, en enigeen wat graag hierdie Germaanse taal uit Afrika wil leer praat of die ooreenkomste en verskille met ander Germaanse tale, en in die besonder Nederlands, wil ontdek.

“Dis ’n wonderlike geleentheid en erkenning vir ons Afrikaanse taal,” sê Sonya en voeg by sy hoop dit sal die begin van ’n lang pad saam met die Nederlandse sentrum wees.

“Want, nes die Nederlandse taalkursusse by die sentrum, bied dit ook ’n kans om mense met die land se stories, musiek, letterkunde en kultuur te laat kennis maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article