Wyle Delia Esau


Sy het diep spore getrap in mense se lewe.

Só vertel die familie van die wyle Delia Esau (52).

Delia, ’n inwoner van Vredenburg, se sterk persoonlikheid en liefde vir die lewe sal deur baie gemis word. Sy is Saterdag 24 Junie weens natuurlike oorsake oorlede.

Vir 12 jaar het sy gedien in verskeie rolle by die Vredenburg-rugbyklub, waarvan sy die laaste drie jaar as sekretarisse gedien het.

Die bestuur van die Vredenburg-rugbyklub stem saam Delia het nie net diep spore by die klub en plaaslike gemeenskap getrap nie, maar ook by die breër rugbygemeenskap regoor die Boland. “Op ’n Saterdag het jy vir Delia op die rugbyveld of rugby-bus gesien, besig om al haar kinders van Vredenburg te ondersteun. Deur al die opdraande en afdraande tye het Delia bankvas agter haar mede-bestuurslede en ons spelers gestaan.”

Die klub voeg by dat hulle “Miss D”, soos sy bekendgestaan het, altyd met liefde en agting sal onthou. “Haar voorbeeld van toewyding, leiding en vriendelikheid teenoor ons spelers, ondersteuners en ander klubs sal nooit vergeet word nie. Ons as Vredenburg-rugbyklub salueer ’n waardige vrou en glo dat haar siel in vrede sal rus.”

Volgens haar familie was Delia ’n spontane mens wat altyd die beste in enige situasie gesien het. Sy was betrokke by die kerk, sport en welbekend in die gemeenskap.

“Ons gaan haar sprankelende persoonlikheid en omgee vir haar medemens, tesame met haar kraailag en vrolikheid, vreeslik mis,” sê die familie. Medelye op sosiale media het van oral ingestroom.

Linda Luyt, ’n vriendin van Delia, sê haar aansteeklike laggie en sprankelende geaardheid is nou vir ewig stil. Luyt sê Delia het daarin geglo om voluit te lewe, lief te hê, te glo en te bid. “Ek sal haar mooi herinneringe tussen ons, koester. Sy wou so baie vanjaar doen vir VGK Sondagskool, maar die kort tydjie saam met haar en ons klassie sal my altyd by bly. Dankie vir jare se opoffering met ons kerk se jeug en katkisante.

“Delia was ’n huishoudelike naam in so baie huishoudings omdat sy haar alles gegee het wanneer sy met die kinders gewerk het. Sy het haar mooi werk op aarde gedoen. Met haar hart van goud, gaan sy gemis word. Sag rus by Jesus se voete.”

Delia laat haar twee seuns en twee kleinkinders agter.

Die begrafnis vind op Saterdag 1 Julie by die VGK kerk in Louwville plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article