’n Vreedsame optog teen geweld is deur die Saldanha-rugbyklub gereël en deur duisende ondersteun. Foto: Mark Ward


Genoeg is genoeg! sê inwoners van Saldanha ná die voortslepende geweld die afgelope weke.

Sowat 2 500 inwoners het Sondag 9 Julie opgeruk om deur die strate van Saldanha teen die misdaad en geweld wat die gemeenskap onlangs geruk het, op te staan. Die inisiatief is deur die Saldanha-rugbyklub van stapel gestuur.

Vier jong mans is sedert Mei die slagoffers van geweld in Saldanha. Dit het die gemeenskap aangespoor om op te staan en hul stemme te laat hoor. Die massas het van die dorp se taxistaanplek tot by die staanplek in Diazville gestap.

Bertram Vraagom van die Saldanhabaai-rugbyklub sê dit was mooi om te sien hoe verskillende rasse saamgestaan en gewys het hoe belangrik die inisiatief was.

Gemeenskapsleiers, kerkleiers, polisiebeamptes en die burgemeester van Saldanhabaai Munisipaliteit was van dié wat deelgeneem het. ’n Memoran­dum is aan die einde van die staptog aan genl.maj. Sizakhele Dyantyi, bevelvoerder van die plaaslike Weskus-polisiedistrik, oorhandig.

Veronique Pretorius, ’n inwoner van Diazville wat ook aan die optog deelgeneem het, sê dit is skokkend, tragies en hartseer dat jong seuns so wreed deur mense van die gemeenskap vermoor word.

“Ons as ouers kan nie stilbly en niks doen nie. Vandag is dit iemand anders se kind; môre dalk myne, want ons almal woon tog in dieselfde gemeenskap,” vertel sy.

Pretorius sê die optog en veral die aantal mense wat betrokke was, het duidelik bewys die gemeenskap is moeg vir die geweld. “Ons moet die Saldanha-rugbyklub salueer vir hierdie inisiatief,” meen sy.

André Truter, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê Sondag se optog was vir hom simbolies. “Ons het as gemeenskappe, verskillende gelowe en selfs politieke partye saamgestaan. Ons kan nie langer terugstaan terwyl misdaad en veral geweld hoogty vier nie. Vuurwapens en moord word ’n algemene ding,” sê die eerste burger.

Truter sê die polisie in die Weskus het ’n groot tekort aan personeel en die provinsie moet die dorpe met meer beamptes toerus. “Mans moet weer rolmodelle in ons

gemeenskappe word. Ons moet ons vroue en kinders koester. Geslagsgeweld het geen bestaansreg in die Saldanhabaai- munisipale gebied nie en ons kan nie langer sê ‘dit is nie ons besigheid nie’, want dit is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article