Marvin Meyer (22) is op Sondag 16 Julie vermoor.


Haar seun het in haar arms gesterf. Dit is ’n prentjie waarmee Magdelene Meyer moet saamleef vir die res van haar lewe.

Terwyl sy nog tot verhaal probeer kom ná die moord op haar seun Marvin Meyer (22) op Sondag 16 Julie, het ’n 35-jarige verdagte die volgende dag (17 Julie) in die hof verskyn op aanklagte van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die verdagte Sondagoggend glo oproerig geraak in sy soeke na sy eie foon. “Hy het om 07:30 ’n 43-jarige man in Drieka Kempstraat wakker gemaak en gevra waar sy foon is. Die man het gesê hy nie weet nie, waarop die verdagte kwaad geraak en die man in sy linkerskouer met ’n mes gesteek het.”

Helfrich sê die polisie het omstreeks 09:45 op ’n klagte oor iemand wat met ’n mes gesteek is in Prosesfonteinstraat gereageer. “Die man wat op die toneel dood verklaar is, was Marvin. Na bewering het die verdagte ook vir Marvin gevra waar sy foon is en hom toe met ’n mes in die rug gesteek.”

Marvin was ’n bekende karwag in Vredenburg en het ook geld gemaak deur motors te was. Sammy Springleer, voorsitter van die Vredenburg- seku­riteit en -besigheids­forum vertel dat Marvin gewoonlik na motors gekyk het in Breestraat, maar later wegbeweeg het na OK Minimark. “Hy het altyd respekvol voorgekom en seker gemaak die motors is veilig. Hy was in die fleur van sy lewe toe sy lewe sinloos weggeneem is. Wat ’n tragedie,” sê Springleer.

Magdelene het aan Weslander vertel dat sy op die toneel was waar haar seun gesterf het. “Ek het ’n groot lawaai in die straat gehoor en toe ek iemand hoor skree ‘Marvin!’ is ek dadelik by die deur uit.” Sy het op die bebloede Marvin afgekom en hom vasgehou terwyl op mediese hulp gewag is. Maar dit was egter te laat.

Magdelene vertel haar seun was ’n mense-mens wat ongeag die omstandighede waarin hy homself bevind het, altyd ’n gelukkige mens was. As ma is dit vir haar nog steeds moeilik om sy dood te verwerk. “My kind het sy lewe onnodig verloor, en dit oor ’n selfoon.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article