Wanneer ’n mens dink aan boelies op skool, dink ’n mens gewoonlik aan kinders in die laerskool, en veral die hoërskool, maar blykbaar vind boeliegedrag selfs in die kleuterskool plaas.

Hoe weet ’n mens dit is nie net rofspeel nie en wanneer word dit as boeliegedrag geklassifiseer? Hoe moet jy as ouer of onderwyser die saak hanteer? Afrikaans.com het met die vroeëkinderontwikkelingspesialis en eienaar van Oasis Club Learning, Yolandi van den Heever-Breytenbach, hieroor gesels. Van den Heever-Breytenbach is ook die ontwikkelaar van die Afrikaans.com-kleuterkurrikulum wat deel uitmaak van dié webtuiste se splinternuwe leerhulpafdeling.

Die definisie van boelie. Hoe lyk boelie?

Kleuters en peuters is rowwe diamante en moet nog ’n begrip van reg en verkeerd aanleer. Op hierdie ouderdom is hulle boonop redelike selfsugtige mensies en is dit ook ’n baie natuurlike verskynsel. Kleuters en peuters speel rof, hulle stamp en skater en lag. En soms bly ander kinders in die slag. Daarom moet ons onderskei tussen die boelie en die rofspeel wat deel is van normale groeigedrag van die kleuter.

. ’n Boelie is egter iemand wat iemand anders seermaak.

. Hierdie boeliegedrag word oor ’n tydperk herhaal (teenoor dieselfde persoon).

. Daar is ’n magswanbalans tussen die partye.

. Boeliegedrag kan fisies, emosioneel of sosiaal wees.

. Emosionele boelies fokus op verbale boeliegedrag (dink aan die tipiese wê-wê-wê-wê-wê singdreunkreet).

. Sosiale gedrag sluit in die uitsluiting van ’n kleuter uit speletjies of aktiwiteite.

My kind word geboelie. Hoe nou gemaak?

Ouers moet nooit ’n kind se klagtes ignoreer of minag nie. Kyk uit vir tekens soos:

. jou lewenslustige kind wil nie meer skool toe gaan nie,

. jou kind wil nie vertel saam met wie hy of sy gespeel het nie, en

. jou kind soek verskonings om nie deel te neem aan aktiwiteite nie, veral by die skooltjie.

Ouers, neem hierdie veranderinge in jou kind ter harte en bespreek dit met die skool en onderwyser. Jy as ouer is jou kind se beste kans in situasies soos hierdie en jy moet en mag aandring op optrede.

Indien jou kind ’n slagoffer van boeliegedrag is, kan spelterapie van hulp wees. Luister na jou kind en let op na jou kind se gedrag. Neem aksie sonder skroom! Moenie jou kleuter se ervarings aflag of wegpraat nie, neem kennis en tree dan op met insig. Dis nie wys om self die boelie aan te vat of sommer direk die ouers te nader nie. Al voel mens magteloos, lei dit nie tot werklike oplossing van die probleem nie.

Maak vooraf seker wat die kleuterskool se boeliebeleid behels en hoe die beleid toegepas word. ’n Pragtig bewoorde beleid is niks werd as daar geen optrede is nie.

Wat as my kind die boelie is?

Hier is dit baie belangrik om seker te maak dat die gedrag werklik voldoen aan die vereistes van boeliegedrag. Mens moet baie versigtig wees om veral kleuters te etiketteer. Dit is ’n ouderdom waar kinders impulsief optree en sonder voorbedagte rade of skroom iets doen sonder om werklik aan die gevolge te dink.

Maak seker dat die kind wat nou optree as die boelie nie self ’n slagoffer van die gedrag is nie (soos byvoorbeeld van ’n ander kind, ouers of ander mense in hul lewe nie).

Indien jou kind wel boeliegedrag toon, is dit belangrik om nie te maak of dit net gaan weggaan nie. Dit is gedrag wat hanteer moet word. Kry hulp, vra raad en bou ’n verhouding met die skool sodat daar saam oplossings gevind kan word.

Raadpleeg ’n kundige

Boeliegedrag kan nie reg geslaan word nie. Die oorsaak van die gedrag moet bepaal word en ’n spelterapeut sal hier kan help. Dit is absoluut belangrik om die gesin as ’n geheel te beskou wanneer so iets hanteer word, aangesien die probleem heel dikwels voorkom by kleuters wat self slagoffers is van hierdie gedrag.

Bewusmaking rondom boeliegedrag

. Bou altyd aan oop en eerlike verhoudings met jou kind, selfs met jou kleuter en peuter. In my persoonlike lewe het ek ondervind dat mens heel dikwels swak gedrag probeer regverdig deur verskonings vir die persoon te soek. “Moenie vir oupa kwaad wees as hy die hond skop nie, hy is dan altyd so liefdevol met julle kleinkinders.”

Ons moet versigtig wees om boelie­gedrag te regverdig deur te maak of goeie gedrag dit ongedaan maak. Kinders, veral kleuters, is baie slimmer as wat ons dink.

. Bring tyd saam met jou kind deur. Dis al manier hoe jy sal kan agterkom as gedrag verander of iets fout is.

. Bemagtig jou kind om vir hom- of haarself op te staan – sonder om terug te boelie.

. Moenie afknouende gedrag van jou kleuter teenoor jouself toelaat nie. Dis nie oukei as jou kleuterseuntjie jou met die vuis boks nie.

. Moenie afknouende gedrag van jou kleuter teenoor diere toelaat nie. Dit is so dat peuters veral dikwels hardhandig met diere werk. Dit alleen dui nie op ’n boelie nie (kyk weer na die definisie hierbo) – maar selfs peuters kan met liefdevolle, maar ferm leiding leer om nie so hardhandig te wees nie.

. Wees die voorbeeld! Ons kinders doen nie soos ons sê nie, hulle doen soos ons doen. Let op jou eie gedrag teenoor ander mense en diere. Jou kind maak soos jy maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article