Die 17-jarige Donna-Leigh Don van Lambertsbaai is steeds vermis.

’n Jaar ná haar verdwyning is daar nog geen spoor van haar nie. Donna-Leigh het op Sondag 24 Julie 2022 verdwyn en was destyds 16 jaar oud.

Die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk het verlede jaar aan Weslander gesê sy het van haar ouerhuis af verdwyn. “Dit was op die dag van haar verdwyning nie presies seker watter klere sy gedra het nie. Sy het haar selfoon ook by die huis gelos om te laai,” het van Wyk gesê.

Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Landelike- en plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie, sê dit verstom hom nog steeds dat Donna-Leigh so spoorloos verdwyn het en niemand het iets gesien nie. Hy sê sy hart gaan uit na haar ouers in hierdie moeilike tyd.

Claasen versoek mense om nie ongegronde inligting rond te slinger en roekeloos met inligting om te gaan nie.

“Daar is nog steeds ’n ma wat hoop het dat haar kind sal huis toe kom; daar is steeds ’n ma wat haar kind verskriklik mis en daar is steeds ’n ma wat opgevreet word deur die onsekerheid oor waar haar kind is. Kom ons staan saam en help die ouers.”

Volgens haar pa, Cyril Walker, is elke dag sonder sy dogter ’n donker dag. “ ’n Mens sukkel om te slaap, die huis is stil en dis nie dieselfde sonder haar nie. Ons hou vas aan ons geloof en glo sy sal terugkeer,” sê Walker.

Walker glo sy dogter lewe nog, juis omdat geen leidrade tot dusver gevind is dat sy nie meer met hulle is nie. Die familie het ook nog geen nuwe inligting van die polisie ontvang nie.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die polisie geen leidrade nie.. Enigiemand met inligting oor Donna-Leigh kan die Lambertsbaai-polisie by 027 432 8260 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article