Ek wil graag ’n dankie-brief vir een van die personeellede van die diere­kliniek in Vredenburg laat plaas.

Daar is min positiewe nuus in die media en ek dink wanneer iemand regtig uit hul pad gaan om te help, moet ’n mens dit bekend maak sodat dit ander kan aanspoor om dieselfde te doen, maar ook sodat die persoon wat gehelp het, weet sy of haar hulp word hoog op prys gestel.

Troeteldiere is vir baie mense iets wat jy aanskaf vir beskerming en soms as ’n stokperdjie, maar dan is daar mense wie se troeteldiere soveel meer is – dit is hul beste vriend, en vir party hul “diere-kinders”.

My dogter van 12 se kat, Zorro, het vir die eerste keer in amper twee jaar twee dae lank iewers rondgeloop. Toe hy laat die tweede aand wel tuis opdaag, kon ons sien iets is fout. Hy was soos ’n dier wat gif ingekry het. Ons het eers gedink hy is net moeg en uitgeput en dalk ’n bietjie gedehidreer, maar dag twee, Sondag, was hy effens erger.

Ek het gedink om hom Maandag veearts toe te neem. Maar my dogter se vriendin se ma, Margaretha, wat by Wesland-dierekliniek in Skoolstraat werk, het toe sy Sondagaand hoor van die kat en hoe hartseer my kind is, ná 20:00 die pad (20 km) gery om ons Zorro-kat te laat opneem. En die nadiens, oggend-updates en mooi boodskappe word met soveel passie en liefde gedoen.

Zorro, wat tot op hede mooi herstel van bosluiskoors, is in goeie hande. Margaretha en dr. Marlise, julle word waardeer. Jul liefde vir diere en mense spreek boekdele. Dankie vir die glimlag op my kind se gesiggie oor haar Zorro-kat.


Annie van der Merwe,

jacobsbaai

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article