Die vuil en verkreukelde broek, hemp en skoene wat by die oorskot van ’n mens in bosse tussen Dwarskersbos en Elandsbaai gekry is, dra die stille getuienis: “Ek was ook hier.”
Of die persoon vermoor is, sieklik was of dalk van die koue gesterf het, sal net die lykskouing kan bepaal, het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê. Daar word nog vir die uitslag van die lykskouing asook moontlik gesigrekonstruksie gewag.
Op hierdie tydstip is die oorledene se identiteit en die oorsaak van sy dood nog nie bekend nie, hoewel daar reeds op 6 Julie om 15:00 op die erg ontbinde lyk in bosse in die Langdamplaas-omgewing afgekom is.
Weslander-lesers wat dalk vermoed wie dit is of meer inligting het, word gevra om asseblief vir konst. Wildeane Kamfer by 022 972 8003 te bel .




