Twee vermiste seuns van Lambertsbaai is weer veilig by die huis. Dit nadat hulle vir byna twee weke van die dorp af verdwyn het.

McNeill Fortuin en Trevor Andrews, albei 13 jaar oud, het ’n dag ná mekaar verdwyn, Trevor Donderdag 3 Augustus en McNeill Vrydag 4 Augustus. Dit was ’n groot verligting vir die families toe die kinders Donderdag 17 Augustus teruggekeer het huis toe.

Catherine Tielings, die tante van McNeill asook Kathleen Andrews, die ma van Trevor, het aan Weslander vertel dit is nie ongewoon vir die seuns om te gaan stap en na die winkel te staan nie, maar dat hulle altyd terugkeer. In dié geval het die seuns nie op die dae van hul verdwyning huis toe gekom nie.

Volgens Catherine het ’n kind van die gemeenskap aan hulle vertel hy het McNeill en Trevor in ’n swart bussie gesien. “Die kind sê hy het vir Trevor geroep, maar Trevor het gesê hy kan nie uit die bussie klim nie. Dis was baie vreemd,” sê Catherine.

Soos Catherine verduidelik, het die seuns vir die man saam met wie hulle gegaan het, gevra vir werk. Hy het ja gesê en dus is hulle saam met hom.

“McNeill het aan my vertel dat hy die man gevra het of hy hulle weer by die huis gaan aflaai en dat die antwoord ja was. Toe dit begin donker raak het McNeill hom weer gevra, maar die man het gesê dis te laat om te ry.”

Vir Catherine is dit skokkend dat die man dae lank nie daaraan gedink het om die kinders huis toe te bring of hulle in kontak te bring met hul familie nie. “Hy was die volwassene, hy moes van beter weet. Toe hulle by die huis kom, was hulle vuil en ’n mens kon sien hulle het lanklaas ’n behoorlike bord kos gehad.”

Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Landelike en Plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie, sê dit gaan sy verstand te bowe dat die man die kinders kon vat sonder hul ouers se toestemming en nie kontak gemaak het met die familie of polisie nie. Claasen sê die saak moet ondersoek word en die man moet redes vir sy optrede gee.

“Dit kan nie onder die mat gevee word nie. Die familie en die gemeenskap verdien beter,” sê Claasen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article