Stellenbosch se polisiekantoor ondersoek ’n klag van strafbare manslag ná die noodlottige ongeluk wat die lewe van ’n geliefde inwoner van Moorreesburg, Carine Strydom (65), en die oud-Springbok Theuns Stofberg geëis het.
Strydom is op die toneel deur nooddienspersoneel dood verklaar.
Carine se man, Theo, was saam met haar in die motor toe die ongeluk plaasgevind het. Theo is per ambulans na die naaste hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Stofberg, ’n voormalige Springbokspeler, -kaptein en rugbybekende, het ernstige beserings in die botsing opgedoen. Hy is Woensdagoggend weens die noodlottige aard van sy beserings in die hospitaal oorlede.
Die botsing het volgens die polisie Maandag omstreeks 19:45 in gietende reën op die R304 Koelenhofpad gebeur. Die Strydom-egpaar was op pad terug na Moorreesburg nadat hulle vermoedelik ’n vergadering in Somerset-Wes bygewoon het.
Die Strydom-egpaar se skoonseun het die omstandighede as moeilik beskryf. Hy het gesê sy skoonpa is aan die herstel. “Dit gaan fisiek goed met hom.”
Die Strydoms is die eienaars van die Spar-winkel op Moorreesburg, asook van ’n Kwikspar in Somerset-Wes.
Personeellede van Spar op Moorreesburg het met hartseer verneem van Carine se dood.
Sy is onder meer as ’n herder beskryf wat ’n groot leemte in die plaaslike gemeenskap laat. ’n Roerende roudiens is Dinsdag in Spar deur alle personeel bygewoon.
Volgens ’n polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, het twee voertuie reg van voor gebots. “Omstandighede rondom die ongeluk word steeds ondersoek. Enigeen met meer inligting oor die ongeluk word vriendelik versoek om die Crime Stop-nommer by 08600 10111 te skakel,” sê Twigg.





