Wanneer laas het jy ’n sakresies aangepak of gekyk of jy nog ’n driebeen-wedloop kan aanpak?
Wel, nou is die kans. Weskussers word genooi om aan die Salkoriane-gemeenskapsportdag deel te neem, wat op Saterdag 9 September plaasvind.
Die sportdag is ten bate van die Vredenburg-klub se meestersatlete wat in November aan die Afrika-meesterskampioenskap sal deelneem. Dié geleentheid vind in Gauteng plaas en die goue oues hou nou die geldinsameling om hul onkostes te help dek.
Oud en jonk is welkom om aan die 3×1 km, 3×3 bal-aflos, “passing the ball”, sakresies, eier-en-lepel-wedloop en die driebeen-resies, deel te neem. Inskrywings beloop R10 per persoon.
Twee groot pryse is op die spel danksy ’n gelukstrekking wat gehou sal word.
Die Salkor-atlete het vroeër vanjaar aan die SA Meesters- baan- en veld-atletiekkampioenskap in Groenpunt, Kaapstad, deelgeneem en hul staal gewys.
Die groep se vertoning by dié kwalifiserende geleentheid beteken 10 klublede is na die Afrika-kampioenskap geneem.
Ondersteun die goue oues se sportdag by die Louwville-sportterrein.
Vir meer inligting bel Sakkie Mentoor by 071 427 6731.




