Jy gaan nêrens nie! Langebaan het die tuisspan met goeie taktiek op die agtervoet gehou. Foto: Yaël Malgas


Langebaan het Saterdag nie net Velddrif in ’n riller van ’n rugbywedstryd geklop nie, maar so ook die tuisspan se kanse om die top-12-uitspeelronde te haal, gesink.

Langebaan, wat die wedstryd van die begin af oorheers het, het egter ook byna die wedstryd op ’n skinkbord aan die tuisspan gegee. Langebaan, wat op ’n tydstip 21-3 voor was, het die wedstryd danksy ’n strafskop 38-37 gewen.

Langebaan het met hope balbesit en gebiedsvoordeel die besoekers van hul voete af gespeel en Velddrif, met die uitspeelronde in gedagte, het daarna so naby, maar tog ook so ver, daarvan gekom om die wedstryd te wen. Die tuisspan het egter nooit opgegee nie en die agterstand stelselmatig uitgewis en ook hul uitspeelkanse lewendig gehou.

Langebaan, wat nog twee wedstryde oor het, sal sake nou met Young Hearts, wat op hul beurt nog drie wedstryde oor het, uitspook, met Young Hearts wat sesde op die punteleer sal eindig. Velddrif, wat tans vierde op die punteleer is, kan nie verder opskuif nie en kan ook nie meer ingehaal word nie.

Saldanha het Saterdag sy plek vir die top-12 bespreek met sy oorwinning oor Vredenburg. Die verdedigende kampioen, wat hierdie Saterdag (2 September) sy laaste wedstryd teen St. Helenabaai speel, sal moet wen om sy titel as streekkampioen te behou.

Mamre-ondersteuners het Saterdag ná die oorwinning in Piketberg uit volle bors gesing “maak oop die hekke, die groen truie is op pad”.

Die span van Kenny Stadler beleef een van sy beste seisoene in jare en kort net een punt uit twee wedstryde om vir die uitspeel te kwalifiseer.

Mamre, wat die naweek tuis Vredenburg se Burg Boys pak, sal alles in die stryd wil werp omdat die span nog ’n buitekans het om ook as streekwenners gekroon te word, sou die kampioen teen St. Helena vasval. St. Helana kan in die volgende twee weke enige van dié twee spanne se partytjie bederf.

Paternoster, wat die naweek ’n goeie oorwinning oor Koringberg behaal het, sal ook hoop dat Mamre albei sy oorblywende twee wedstryde verloor om hul wiskundige kans lewendig te hou.Volledige uitslae

. Weskus: Vredenburg 15-34 Saldanha; Piketberg 27-38 Mamre; Langebaan 38-37 Velddrif; Paternoster 64-0 Koringberg; Young Hearts 37-22 Hopefield.

. Swartland: Wesbank 40-31 Moorreesburg; Saron 45-49 Darling; Goodhopes 51-28 Riebeeck United; Porterville 22-27 Never Despairs.

Die naweek se program: Saldanha t. St Helena; Mamre t. Vredenburg; Langebaan t. Paternoster; Koringberg t. Young Hearts; Hopefield t. Piketberg, terwyl Velddrif ’n blaaskans kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article