’n Man en ’n vrou van Witteklip, Vredenburg, het ernstige brandwonde opgedoen toe die materiaal wat hulle in ’n konka aan die brand gesteek het, in hul gesigte ontplof het.
Volgens Roché Laws, ’n woordvoerder van die Vredenburg-staatshospitaal, is ’n 26-jarige man met 50% brandwonde en ’n 21-jarige vrou met 70% brandwonde verlede Donderdagmiddag in die hospitaal opgeneem.
Die man is behandel en later na die brandeenheid in Kaapstad oorgeplaas en die vrou sterk steeds in die Vredenburg-hospitaal aan.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, ondersoek die polisie nie die saak verder nie.

