Twee van die sestien insittendes, almal mans tussen 19 en 49 jaar oud, wat in die bakkie-ongeluk op Vrydag 8 September op die Vredenburg-Velddrif-pad (R399) beseer is, veg om hul lewe in die Groote Schuur-hospitaal.
Vier mans is in die ongeluk dood, en volgens Roche Laws, woordvoerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdeparte-ment, is vyf steeds in ’n kritieke toestand en drie, wat vir beserings soos gebreekte arms en bene in die hospitaal behandel is, is intussen ontslaan.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het gesê die bakkie, ’n blou Toyota Hilux, se band het vermoedelik gebars, waarna dit omgeslaan het.
Die bakkie, wat glo aan ’n kontrakteur van ’n konstruksiemaatskappy in St. Helenabaai behoort, het vyftien werkers vervoer – die meeste van hulle agterop onder die kajuitkappie.
Elowayne Gouws, direkteur van West Coast Medical Rescue, het gesê die ongeluk het net voor 07:00 gebeur.
EMS- en Metro-ambulansdienste was ook op die toneel om te help om die 12 beseerdes na die Vredenburg-staatshospitaal te neem.
Geregsdienaars het die pad van voor die Weskusmark (ou Fruit & Veg) in Velddrifweg tot by die St. Helenabaai-aansluiting gesluit.
Dit was bykans die hele oggend gesluit vir die forensiese span van die Kaap om die toneel te fynkam.
Slegs een van die oorledenes kon intussen geïdentifiseer word.
Helfrich het gesê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek.


