Ná dae op die pad het Fanie van Zyl sy 1 600 km-fietsrit voltooi.
Dié eienaar van Saldanha Crane Hire het Sondag 10 September net ná middernag uit Vereeniging die pad gevat, alleen op sy fiets tot by Bloubergstrand – alles ten bate van Saldanha Animal Care (Sac), ’n organisasie sonder winsoogmerk wat staatmaak op skenkings van individue en sakeondernemings.
Van Zyl sê die doel met die rit was ook om die gemeenskap betrokke te kry.
“’n Mens kan die uitdaging met ondersteuning of sonder ondersteuning aanpak. Sonder ondersteuning het dit meer interessant en moeiliker gemaak – ’n opsie waarvoor ek kans gesien het.”
Die rit was sowaar ’n uitdaging en het hom 190 ure en 13 minunte geneem om te voltooi. Hierdie tyd is aangeteken as die tweede vinnigste tyd tot dusver in sy 40-45-ouderdomskategorie.
Van Zyl vertel dat hy vir drie dae redelike wind van voor gehad het, wat sy gemiddelde spoed afgebring het.
“Dit vat dan 16 tot 20 ure per dag om jou volgende punt vir die dag te bereik. [By] Sutherland was daar ’n wind van voor en rukwinde van 80 km/h. Ek moes 15 km voor Sutherland met my fiets stap omdat die wind my heeltyd afgewaai het. Dit was uitdagend.”
Die beplanning en uitvoering van die rit het binne ’n maand gerealiseer. Van Zyl het ’n oefenprogram gevolg wat tussen 10 en 13 ure per week geverg het.
“Tydens die laaste skof voor Bloubergstrand het my nek ingegee en met hulp kon ek ’n nekstut kry om die laaste skof te voltooi. Ek is 07:00 uit Ceres weg en het die aand om 22:00 in Bloubergstrand aangekom. Die ondersteuning was oorweldigend, met fietsryers, familie, vriende, ondersteuners en Sac wat my met ope harte ingewag het.”
Vir van Zyl was dit ’n emosionele oomblik. Hy voeg by dat dit alles nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning van sy vrou, Brenda, en kinders, Stephanie en Adriaan nie, asook dié van die gemeenskap, familie en vriende.
“Ek wil ook almal uit my hart vir hul skenkings en ondersteuning bedank.”





