’n Eenjarige seuntjie van Klawer en ’n onbekende man het die afgelope naweek in die Weskus-polisiedistrik verdrink.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, is die liggaam van ’n eenjarige seuntjie Saterdag (16 September) om 11:30 in ’n dam op die rivierplaas Groen Oase by Trawal gevind.

“Die dam is nie omhein nie en die kinders het daar gaan speel.”

Die seuntjie was in iemand se sorg omdat sy ma gaan kruideniersware koop het. Die veiligheid by dié dam word saam met die verdrinking ondersoek, het Helfrich gesê.

Die lyk van ’n onbekende man in die laat dertig tot vroeë veertig jaar is ook Saterdag om 10:15 in die Bergrivier naby die Carinus-brug gevind. Hy het steeds ’n polletjie riete in sy hand vasgeklou wat dit laat lyk asof hy probeer het om bo die water te bly.

Hy het ’n grys stoppelbaard en kort grys hare en is met ’n blou oorpakbroek en bruin skoene met verfkolle op gekry. Hy het ook ’n swart Checkers Liquor-baadjie aangehad.

Die uitslag van die lykskouing sal bepaal wat die oorsaak van sy dood was.

Teen druktyd is daar nog nie meer inligting oor die twee verdrinkings bekendgemaak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article