’n Man van Lutzville is Sondag (1 Oktober) in die vroeë oggendure in ’n stryery oor ’n eksmeisie noodlottig in die kop geskiet.

Die 35-jarige Christopher van der Westhuizen het, volgens die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich, glo Thulani Sikhakhanem (42), die beskuldigde, gedreig omdat hy met Van der Westhuizen se eksmeisie gedans het.

Die groep het omstreeks 02:00 in die straat voor ’n kuierplek in Rosestraat slaags geraak.

Sikhakhanem het na bewering só bedreig gevoel dat hy Van der Westhuizen in die kop geskiet het.

Van der Westhuizen is op die toneel dood, waarop Sikhakhanem in hegtenis geneem en op sy gelisensieerde vuurwapen beslag gelê is.

Die oorledene se eksmeisie het reeds ’n beskermingsbevel teen hom gehad, wat hy in September verontagsaam het en waarvoor hy aangekla is.

Sikhakhanem, ’n kontrakwerker oorspronklik van Empangeni in KwaZulu-Natal, het Dinsdag 3 Oktober in die Lutzville-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article