Die plaag van diefstal van beskermde en bedreigde inheemse plante het verlede week tot die inhegtenisneming van 12 mans, onder wie twee Zimbabwiërs, gelei.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, sê twee Zimbabwiese burgers, Blessing Chikaka (39) en Pearson Marandu (33), is Vrydag om 23:45 by die Klawer-weegbrug aangekeer. Hulle het aanvanklik ’n boete gekry omdat hul voertuig se flikkerligte nie na behore gewerk het nie. Tydens hul ondervraging het hulle aangedui dat daar net klere was agterop die bakkie waarmee hulle gery het. Met nadere ondersoek is 82,2 kg se inheemse flora in vier sakke gevind.

Volgens Helfrich is die straatwaarde van een plantjie R500.

Chikaka en Marandu het Dinsdag (9 Oktober) in die Vanrhynsdorp-landdroshof verskyn.

In nóg twee afsonderlike voorvalle is nóg tien mans verlede Donderdag (5 Oktober) om 03:45, ook by die Klawer-weegbrug, voorgekeer en in hegtenis geneem vir die onwettige besit van beskermde plante.

Helfrich het verduidelik dat ’n Mazda-bakkie met drie insittendes eerste voorgekeer is. Niks was fout met die voertuig nie en hulle is toegelaat om verder te ry.

’n Paar minute later is ’n vragmotor voorgekeer. Polisielede het opgemerk dat twee passasiers in die vragmotor baie verdag voorkom. Die bestuurder het die polisielede meegedeel dat hy die twee passasiers opgelaai het omdat hulle ’n saamrygeleentheid na Kaapstad gevra het. Almal se bagasie is nagegaan en die twee passasiers het aangedui dat die groot wit sakke het aan hulle behoort. Die polisie het in die sakke op inheemse flora afgekom, waarvoor die twee mans nie permitte kon toon nie.

Dié twee het verduidelik dat hulle deel is van ’n groep wat ’n wit Toyota Corolla, wat op pad was, en die Mazda-bakkie wat oomblikke vantevore deur die weegbrug gery het, insluit. Die Mazda-bakkie en die Toyota Corolla is voorgekeer en al die insittendes is aangekeer. Sowat 50 kg beskermde plante is afgeneem.

Die tien verdagtes het Vrydag 6 Oktober in die Vanrhynsdorp-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article