Die Laaiplek-polisie ondersoek die moord van ’n 40-jarige vrou wie se liggaam in ’n oop veld naby die hawe ontdek is.Foto:


Die liggaam van ’n vrou, geklee in net ’n swart denimbroek, versteek tussen rommel in ’n oop veld. ’n Stuk draad om haar nek verstrengel.

Dit lees miskien soos ’n misdaadtoneel uit ’n speurverhaal, maar dié gru-ontdekking is Sondag 29 Oktober langs ’n voetpad in ’n oop stuk veld naby die Laaiplek-hawe deur ’n verbyganger gemaak.

Volgens Anelisiwe Manyana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is die slagoffer ’n ongeïdentifiseerde 40-jarige vrou. Luidens voorlopige polisieverslae is sy dood aan ’n kopbesering. Die omstandighede wat tot haar wrede dood gelei het, of sy daar vermoor is en of haar liggaam daar gestort is, bly als nog ’n raaisel.

Manyana sê niemand wat die oorledene se beskrywing pas is intussen as vermis by die plaaslike polisie aangemeld nie.

Die polisie vra nou die publiek se hulp terwyl hulle die saak verder ondersoek.

Enigiemand met inligting wat moontlik verband hou met die voorval, of ’n vermoede het wie die oorledene is, word gevra om spoedig met die ondersoekbeampte, speursersant Emilio Benjamin, kontak te maak by 079 893 9839 of 022 783 8027. Alternatiewelik, skakel die polisie se inbelsentrum by 08600 10111.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article